SABBATSRUS
- 3 minutes read - 605 wordsHebreërs 4:1-13
Na 400 jaar as slawe in Egipte het God die Israeliete ‘n kans gegee om vry te kom. God wou ‘n intieme verhouding bou met elkeen van die Israeliete. Slegs 2 mans, Josua en Kaleb, uit die 603 550 mans (dit is sonder die Leviete - Exodus 38:26, Númeri 1: 46) het rus in God se beloftes gevind. Selfs Moses het uit frustratie die rots geslaan en daarom kon hy nie die beloofde land binnegaan nie.
“Want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het: Daarom het Ek in my toorn gesweer, hulle sal in my rus nie ingaan nie — alhoewel sy werke van die grondlegging van die wêreld af volbring is.”
HEBREËRS 4:3 AFR53
God gee ook vir ons ‘n kans om Sy sabbatsrus in te gaan. Wat bepaal of ek in die sabbatsrus ingaan?
1. Geloof - Geloof dat God reeds al Sy werke in die begin voltooi het voordat sonde die wêreld binne gekom het (Hebreërs 3:12, 4:3-4, Génesis 2:2).
2. Gehoorsaamheid aan God, want ongehoorsaamheid diskwalifiseer jou.
3. ‘n Sagte hart wat luister na die stem van die Heilige Gees. Dawid waarsku ons om nie ons harte te verhard nie (Psalms 95:7-11, Hebreërs 4:7).
4. Vrede - Moses se frustrasie met die Israeliete se sondes het hom diskwalifiseer. Moenie dat ander se sondes of die bekommernisse van hierdie wêreld (Markus 4:19) jou diskwalifiseer nie.
5. Rus in God se voltooide werk. God het 6 dae gewerk en toe gerus. Rus vehoed ongehoorsaamheid. Jy doen alles wat jy weet God wil hê jy moet doen en verder rus jy. Dis ‘n aktiewe rus. Dit is nie stilsit en kyk of God jou gebede gaan verhoor nie. Ons moet saam met God werk om dinge te laat gebeur. In Exodus 14 sien ons hoe God vir die Israeliete sê om stil te wees, want Hy sal hulle laat oorwin. Moses moes steeds sy staf oplig en die Israeliete moes deurstap toe die Rooi See oopgaan. Vanoggend hoor ek die woorde van “Move you heart” (Dante Bowe en Elyssa Smith) in my gees: Die sangers vra:“Tell me what moves You” en dan antwoord God: “You do, you do.” Ons moet ons vertroue in God plaas en gehoorsaam wees en dan laat God dinge gebeur.
Josua het by die tent agtergebly om tyd by God te spandeer (Exodus 33:11). Kaleb het ‘n ander gees gehad (Númeri 14:24). Josua en Kaleb het na dieselfde land gekyk as die ander 10 verspieders, en kon God se voorsiening raaksien. Die ander 10 verspieders het in vrees geleef sonder enige geloof in God. Josua en Kaleb kon dus die sabbatsrus ervaar en die beloofde land ingaan.
Jesus het as mens Aarde toegekom. Hy het stiltetyd by die Vader spandeer en daarom het Hy Sy Vader geken. Jesus het geweet Sy Vader sal mense genees as Hy hulle gesond verklaar. Jesus het geloof gehad in die Vader en Hy was gehoorsaam tot die dood toe. Die engele het Hom versterk sodat Hy vrede kon ervaar in moeilike tye. Jesus het gedurig Skrif aangehaal. Jesus het omgegee vir mense, maar ook geweet wanneer om weg te stap. Jesus het gerus in God se voltooide werk. Vandag kan ons rus in God en ook Jesus se voltooide werk sodat ons die sabbatsrus kan ervaar.
“GESEËND is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees,”
EFÉSIËRS 1:3-4 AFR53