Sandkorrel
- 5 minutes read - 1015 wordsAs jy jou lewe hier op aarde vergelyk met die ewigheid dink ek aan ’n sandkorrel op die strand. Die ewige lewe is soos die sandduine, daar is so baie sandkorrels dat jy dit nie kan tel nie. Dit voel of daar geen begin of einde aan sand is nie. ’n Enkele sandkorrel is so klein, jy sien dit skaars raak. Die sandkorrel verteenwoordig jou lewe op aarde. Daardie een, enkele sandkorrel bepaal egter wat met jou gaan gebeur, na hierdie lewe (Jesaja 66:24, Markus 9:44,46,48). Al voel jy so gering soos ’n sandkorrel is dit belangrik dat jy ’n kwaliteit lewe lei, met ’n intieme verhouding met Jesus en die Heilige Gees. Jou besluite gedurende hierdie kort lewe op aarde sal bepaal hoe jou ewigheid lyk.
“Die mens is soos die nietigheid; sy dae is soos ’n vlugtige skaduwee.”
PSALMS 144:4 AFR53
“julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ’n damp wat vir ’n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn.”
JAKOBUS 4:14 AFR53
Ek het onlangs “The hell conspiracy” van Laurie Ditto gelees. Sy het in die gees hel toegegaan en sê alle vloeistof verdwyn uit jou liggaam uit. In die hel is mense dors, geïsoleerd en intens bewus waarom hulle daar beland het. Sy was maande, na haar terugkeer tot haar liggaam, nog getraumatiseer van die ervaring. Haar liggaam het selfs tekens van ernstige ontwatering getoon.
Wanneer ons die gelykenis lees van Lasarus en die ryk jongman, in Lukas 16:19-31, sien ons dat Lasarus baie dors was en gely het as gevolg van die hitte van die hel. Laurie het as ’n Christen geleef, maar het probleme met vergifnis gehad.
“Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.”
MATTHÉÜS 6:14-15 AFR53
Deur God se goedheid het Laurie ’n tweede kans gekry en sy deel nou haar boodskap met duisende mense. Jou sandkorrel lewe moet dus vol vergifnis wees.
Hier op aarde het ons nie regtig begrip dat daar nie tyd in die hiernamaals is nie. Jesus het gesê Hy kom gou terug en dit is 2000 jaar later en Hy is steeds nie hier nie.
“Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar.”
OPENBARING 22:7 AFR53
“Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!”
OPENBARING 22:20 AFR53
Twee duisend jaar is dus nie lank as jy dit vergelyk met ’n ewigheid, sonder begin of einde nie. As kind het ’n dag soms soos ’n ewigheid gevoel, maar soos ek ouer raak voel dit asof alles baie vinniger gebeur. Hoe ons iets ervaar beïnvloed in ’n groot mate hoe ons tyd ervaar. Wanneer jy op ’n probleem fokus, voel dit of jy nooit daardeur kom nie. Wanneer jy op die goedheid van God fokus raak die probleem kleiner en minder belangrik. As iets lekkers en positief is gaan ons nie die tyd dophou nie. Op dieselfde manier wat jy tyd verskillend ervaar, afhangend van jou ouderdom of omstandighede, is hemelse tyd verskillend van aardse tyd.
“Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ’n nagwaak.”
PSALMS 90:4 AFR53
“Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.”
II PETRUS 3:8 AFR53
Abraham het ’n ewige God aangeroep" in Génesis 21:3.
Na hierdie lewe gaan ons in ’n ewige rus in. In die Hemel sal daar nie dag en nag wees nie. Op aarde raak ons moeg en het elke aand slaap nodig.
“En hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees. En nag sal daar nie wees nie; en hulle het geen lamp of sonlig nodig nie, omdat die Here God hulle verlig; en hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid.”
OPENBARING 22:4-5 AFR53
Ek stel my voor dat die Hemel soos ’n vakansie is waar ek die hele dag interessante en lekker dinge doen, sonder die moeg word. Niemand baklei en stry nie, die weer is perfek, niemand raak siek nie en almal lewe altyd in vrede saam. Die belangrikste deel is dat ons sonder moeite in Jesus se teenwoordigheid kan wees.
Prediker 1 sê alles in hierdie lewe in ’n gejaag na wind. Rykdom, sukses, ’n gesonde leefstyl en wêreldse geluk verseker nie jou plek in die hemel nie.
“Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.”
I TIMÓTHEÜS 4:8 AFR53
“My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”
JOHANNES 10:27-28 AFR53
“En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”
JOHANNES 17:3 AFR53
Dis nie net genoeg om te weet dat God bestaan nie. Maak seker jy KEN Jesus en weet nie net van Hom nie.
“Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.”
JAKOBUS 2:19 AFR53
Jy voel dalk soos ’n klein sandkorrel, wat deur die wêreld rondgestamp en stoot word, maar Jesus het al Sy outoriteit aan jou gegee. Jy kan siekes gesond maak, duiwels uitdryf mense na Jesus lei en na weduwees en weeskinders omsien. Jesus het ook gesê dat jy meer kan doen as wat Hy gedoen het. Jy sit reeds in hemelse plekke saam met Jesus. Jy het krag ontvang van die Heilige Gees om ’n verskil te maak. Jy kan Hemel op aarde ervaar. Die almagtige God is altyd met jou. Maak seker dat jou sandkorrel lewe betekenis het.
Lees ook die volgende:
Matthéüs 7
Matthéüs 25