Sebna en Éljakim
- 3 minutes read - 577 wordsJesaja 22:15-25, 36-37
2 Konings 18-19
2 Kronieke 32
Hiskía (Hezekiah) was koning van Juda en Sánherib was koning van Assirië. Hiskía was ‘n goeie koning en het op God vertrou. Hy het egter sonde gedoen en daarom het Assirië van die stede van Juda verower. Die Assiriërs wou ook Jersualem beleër. Sebna was verantwoordelik om na die paleis om te sien en moontlik die koning se tesourier. Hiskía het Éljakim, Sebna en Joa uitgestuur om die afgevaardiges van Assirië te ontmoet. Hulle het teruggekom met ‘n baie negatiewe verslag. Assirië wou hê dat Juda op hulle vertrou en nie op God nie. Juda kon ook nie op hulp van Egipte vertrou nie, want hulle was swak soos ‘n riet. Hiskía het die profeet Jesaja genader vir raad. God het ‘n engel gestuur om Assirië te verslaan en Sánherib se 2 seuns het hom vermoor.
Sebna - Strong’s H7644 - (God) kom nou terug.
Éljakim - Strong’s H471 - God (El) vestig.
Sebna het die ergste verwag en het vir homself ‘n graf laat uitkap in die hoogte. Sebna het nie op God vertrou nie en was vol trots. Eiebelang was sy ondergang. Sebna het gevolglik sy posisie verloor en Éljakim is aangestel as paleis bestuurder en tesourier.
“En Ek sal jou (Sebna) wegstoot uit jou pos, en uit jou plek sal Hy jou wegruk.
En in dié dag sal Ek my kneg Éljakim, die seun van Hilkía, roep;
en Ek sal hom jou gewaad aantrek en hom gord met jou gordel, en jou mag sal Ek in sy hand lê, en hy sal vir die inwoners van Jerusalem en vir die huis van Juda 'n vader wees.
En Ek sal die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer lê; en hy sal oopmaak, en niemand sal sluit nie; en hy sal sluit, en niemand sal oopmaak nie.
En Ek sal hom inslaan soos 'n pen in 'n vaste plek, en hy sal 'n eretroon wees vir die huis van sy vader. En hulle sal aan hom ophang die hele swaarte van die huis van sy vader, die spruite en die wilde lote, al die klein huisraad, van komme af tot allerhande kruike toe.
In dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal die pen padgee wat in 'n vaste plek ingeslaan is: dit word afgebreek en val, en die drag goed wat daaraan hang, raak tot niet, want die Here het dit gespreek.”
JESAJA 22:19-25 AFR53
Jesaja verwys dikwels na Jesus in sy boeke. Éljakim is ‘n skaduwee van Jesus. In Openbaring lees ons ‘n soortgelyke beskrywing van Jesus.
“en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met 'n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met 'n goue gordel.”
OPENBARING 1:13 AFR53
“EN skryf aan die engel van die gemeente in Filadelfía: Dít sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie:”
OPENBARING 3:7 AFR53
Jesus het aan die kruis gehang en al die laste vir ons gedra. Hy het ook opgestaan uit die graf en opgevaar na die Hemel. In teenstelling was Éljakim net ‘n tydelike outoriteit wat verligting gebring het vir God se kinders. God het Jesus gevestig as ‘n ewige outoriteit. Ons kan soos Éljakim saam met God werk of ons kan soos Sebna teen God se plan werk.