SERUBBÁBEL
- 4 minutes read - 771 words1 Kronieke 3, Esra 1-6, Jeremia 22, 2 Kronieke 34-36, 2 Konings 22,
Haggai 1-2, Sagaría 4, Nehemía 7,12.
Die naam Serubbábel beteken ”gesaai in Babel” (H2216). Nebukadnésar, die koning van Babel, het Jerusalem ingeneem en die eerste tempel verwoes. Die Babiloniese ballingskap was 70 jaar lank. Koning Kores, die koning van Persië, het toestemming gegee dat die tempel in Jerusalem herbou kon word. Serubbábel was van die eerstes wat teruggekeer het na Jerusalem. Serubbábel is gebore in Babel en was uit die bloedlyn van koning Salomo. Die konings van Juda was almal voorsate van Serubbábel.
Dawid - Salomo - Rehábeam - …….. Hiskía …… - Josía - Jójakim - Jegónja/Gonja/Jójagin - (Sedekia )- Seáltiël - Pedája - Serubbábel.
Josía was 8 jaar oud toe hy koning geword het en het later God begin volg. Hy het die altare en die heilige boomstamme van die vals gode verwoes, die tempel gereinig en die wetboek is gevind en gevolg. Die verbondsark is weer in die tempel geplaas en hulle het weer die feeste gevier. Ongelukkig was Josía die laaste koning van Juda wat God gevolg het. Daarna was Josía se oudste seun Jóahas (*Jóhanan) slegs 3 maande lank koning. Daarna het die koning van Egipte vir Josía se tweede oudste seun, Jójakim (*Éljakim), koning gemaak. Hy het ook sonde gedoen en was slegs 11 jaar lank koning. Nebukadnésar het Jójakim weggevoer na Babel en ook voorwerpe uit die eerste tempel saamgeneem na Babel. Jójakim se seun Jójagin was die volgende koning en het vir slegs 3 maande en 10 dae regeer. Jójagin en al die inwoners van Jerusalem is weggevoer na Babel. Al die skatte van die tempel en die koningshuis is weggeneem na Babel.
“So waar as Ek leef, spreek die Here, al was Gonja, die seun van Jójakim, koning van Juda, 'n seëlring aan my regterhand, tog sal Ek jou daar afruk,”
JEREMIA 22:24 AFR53
Die seëlring was ‘n simbool van die verbond tussen God en Juda. Juda het die verbond verbreek. Jójagin se sonde het gemaak dat God nie langer konings op die troon wou hê nie.
Daarna was Sedekía (*Mattánja), Jójagin se broer (volgens 2 Kronieke 36:10) of oom (volgens 2 Konings 24:17) die laaste koning van Juda.
*Die name van die konings is gedurende die ballingskap verander.
Serubbábel was gesaai in Babel omdat hy daar gebore is en sy familie het gruwelike “Babelse” sonde gedoen. Die Bybel praat van Serubbábel seun van Seáltiël, maar Seáltiël was sy oupa. Pedája was Serubbábel se pa. God het Serubbábel se hart aangeraak om die tweede tempel te bou. Ongeag sy familie agtergrond het Serubbábel ‘n missie gehad. Serubbábel is nie gediskwalifiseer oor sy familie se sonde nie. Serubbábel word aangestel as goewerneur oor Juda en hy word die nuwe seëlring vir die stam van Juda.
“In dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek jou neem, Serubbábel, seun van Seáltiël, my kneg, spreek die Here, en jou maak tot 'n seëlring, want jou het Ek verkies, spreek die Here van die leërskare.”
HAGGAI 2:23 AFR53
Ons liefdevolle God het wonderlike restorasie gebring vir Dawid se bloedlyn deur Serubbábel. Serubbábel het baie teenstand gekry met die bou van die tempel. Hulle het die fondasie gegrawe en daarna is die bou van die tempel stopgesit vir ‘n tydperk. Selfs die vertraging kon God se planne nie stop nie.
“Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die Here aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die Here van die leërskare. Wie is jy, groot berg? Voor Serubbábel sal jy tot 'n gelykte word! En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom! En die woord van die Here het tot my gekom en gesê: Die hande van Serubbábel het die fondament van hierdie huis gelê, en sy hande sal dit voltooi; dan sal jy weet dat die Here van die leërskare my na julle gestuur het. Want wie verag die dag van klein dinge, terwyl daardie sewe — die oë van die Here wat die ganse aarde deurloop — met blydskap die skietlood aanskou in die hand van Serubbábel?”
SAGARÍA 4:6-10 AFR53
Serubbábel het soveel dinge gehad wat hom kon diskwalifiseer, maar God was aan sy kant en daarom kon hy sy missie voltooi. Meer as 500 jaar later het Jesus gekom om finale restorasie te bring vir alle mense. Niks en niemand kan jou diskwalifiseer nie. Selfs wanneer jy teenkanting ervaar is God se Gees daar om jou leiding te gee. Jy kan jou missie vind en voltooi.