SIEKTE IN DIE OU TESTAMENT
Janine Forsyth
- 8 minutes read - 1697 wordsSara en haar skoondogter Rebekka het probleme gehad om swanger te word - Génesis 16:1, 21:7, 25:21. Abraham en Isak het uit vrees leuens vertel en Sara het haar eie planne gemaak om ‘n nageslag te kry. Hulle moes op God vertrou om swanger te raak en op God se tyd geboorte skenk.
God het Jakob beveel om Laban te verlaat en terug te keer na Kanaän. Jakob was bang om sy broer Esau weer te sien. Hy het geskenke vooruit gestuur, sy familie en diere in 2 kampe verdeel en alleen agtergebly. Hy het met God geworstel en aangedring om geseën te word. God het reeds jare gelede beloof dat Hy hom sou seën en na hom omsien - Génesis 28:13-15. In die proses het God vir Jakob op die heupbeen geslaan. Jakob het God se gesig gesien, maar was ook mank daarna - Génesis 31:3, 32.
Jakob se geliefde Ragel het vroeg gesterf nadat sy ‘n moeilike bevalling gehad het. Sy het gesukkel om swanger te raak en uiteindelik 2 seuns gehad. Ragel het vroeër afgodsbeelde by Laban gesteel. Sy het haar seun Ben-Oni (seun van swaarkry) genoem. Jakob het sy twaalfde seun se naam verander na Benjamin (seun van my regterhand). Twaalf is die nommer van God se regering. Dit was ‘n profetiese prentjie van Jesus wat God se Seun van swaarkry was en later aan God se regterhand gaan sit het. God se kinders is saam met Jesus in die Hemel - Efésiërs 2:6.
Jakob en Isak se oë het verswak toe hul ouer word - Génesis 48:10, 27:1.
Juda se 3 seuns by ‘n Kanaänitiese vrou het gesterf. God het gekies dat Jesus uit die bloedlyn van Juda gebore moes word. Uiteindelik het Tamar swanger geraak by Juda (haar skoonpa) en geboorte geskenk aan 2 seuns. Peres (deurgebreek) was geskik om in Jesus se geslagsregister te kom - Génesis 38, Matthéüs 1:3.
Die 10 plae in Moses se tyd het slegs Farao en die Egiptenaars aangeraak. Die Israeliete was die hele tyd onder die beskerming van God - Exodus 7-11.
Mirjam en Aäron het ‘n probleem gehad met Moses se Kusitiese vrou - Númeri 12. Mirjam was 7 dae lank melaats en moes in afsondering woon totdat God haar genees het.
Toe die Israeliete ongeduldig raak en begin kla oor hulle situasie het giftige slange hulle gebyt - Númeri 21:1-10. Moses moes ‘n koperslang waarna die mense kon opkyk vir genesing. Dit was ‘n skaduwee van die kruis.
Sonde het siekte gebring onder die Israeliete. Die plaag het opgehou wanneer die Israeliete vergifnis gevra het en die skuldiges moes sterf - Númeri 25.
God het omgesien na die Israeliete toe hulle vir 40 jaar deur die woestyn moes trek a.g.v. hulle eie slegte keuses - Deuteronómium 29:5. Moses het die berg Nebo uitgeklim voordat hy gesterf het.
“En Moses was honderd-en-twintig jaar oud toe hy gesterf het; sy oog was nie verswak nie, en sy krag het nie vergaan nie.”
DEUTERONÓMIUM 34:7 AFR53
Gedurende ‘n hongersnood het Naómi en haar familie van Betlehem in Judea na Moab getrek - Rut 1-4. Haar 2 seuns het hier met Moabitiese vroue getrou. Haar man en 2 seuns het gesterf in Moab. Ons weet nie wat hul dood veroorsaak het nie. Naómi en haar skoondogter Rut het teruggekeer na Israel. Rut het met Boas getrou en hul seun Obed was Dawid se oupa. God het Rut gebruik om weer ‘n familie vir Naómi te gee.
Satan het vir Job aangeval en siek gemaak. Ons weet Job was onskuldig.
“En die Satan het weggegaan van die aangesig van die Here, en hy het Job met bose swere getref, van sy voetsool tot sy skedel.”
JOB 2:7 AFR53
Toe Hanna sukkel om swanger te word het sy na die tempel gegaan en gebid. God het haar geseën met ‘n seun, Samuel, wat sy teruggegee het aan God - 1 Samuel 1.
Toe die Filistyne die verbondsark steel het hulle siek geword van die plaag - 1 Samuel 6. Die plaag het gestop toe die Filistyne die verbondsark terugstuur na Israel. Baie mense van Bet-Semes is dood omdat hulle die verbondsark bekyk het. Verskeie konings van Juda en Israel het siek geword en of gesterf weens hulle sonde.
God het opdrag gegee dat Saul vir Ámalek moes verslaan en al die mense en diere moes sterf - 1 Samuel 15-16. Saul het egter besluit om die beste diere te hou en vir God te offer. Saul se ongehoorsaamheid het aanleiding gegee dat God se Gees hom verlaat het en ‘n bose gees het oor Saul gekom. Dawid is toe gesalf as die volgende koning van Israel.
Koning Dawid het egbreuk gepleeg met Bátseba en haar man Uría na die oorlog gestuur om te sterf - 2 Samuel 11-12. Dawid en Bátseba se eersteling moes sterf weens Dawid se sonde.
Dawid was ongehoorsaam en het die Israeliete laat tel. Die pes het 70 000 mans in 3 dae laat sterf - 2 Samuel 24.
Koning Jeróbeam was bang dat wanneer Israel vir God gaan aanbid in Jerusalem, sal hulle Koning Rehábeam begin volg en planne maak om hom dood te maak - 1 Konings 12-13. Gevolglik het Jeróbeam tempels opgerig op die hoogtes en feeste ingestel. Toe ‘n profeet hom daaroor aanspreek het hy sy arm uitgestrek na die profeet. Hy wou hê sy manne moes die profeet gryp. Jeróbeam se arm het stokstyf geword en hy kon dit nie terugtrek totdat die profeet gebid en gevra het dat God sy arm genees nie.
Koning Ahásia van Israel het deur ‘n tralievenster geval en siek geraak - 2 Konings 1. Hy het boodskappers uitgestuur om die god van Ekron (Baäl-Sebub) te raadpleeg. Elía het aan die boodskappers verskyn en hulle verseker dat die koning sou sterf omdat hy sy rug op God gedraai het.
Koning Asa van Juda het God gevolg, maar was ongehoorsaam deur op die koning van Aram te steun i.p.v. God - 2 Kronieke 16. Hy het ernstige probleme met sy voete gehad en baie gely. Hy het sy vertroue in dokters geplaas en nie in God nie. Gevolglik het hy gesterf.
Koning Agab en sy vrou Isébel was baie goddeloos - 1 Konings 16:29 - 22:40. Hulle het afgode aanbid en God se profete vermoor. Agab het in die oorlog gesterf en die honde het sy bloed opgelek. Isébel is by die venster uitgegooi en honde het haar opgevreet. God het toegelaat dat Agab se hele nageslag uitgeroei word.
Koning Hískia het God heelhartig gevolg - 2 Konings 20. Hy het ernstig siek geword en sou sterf. Hy het gehuil en God gesmeek dat hy langer sou leef. God het vir hom 15 jaar bygevoeg, maar ongelukkig het Hískia sonde gedoen in hierdie tyd.
God het Elísa gebruik om mense te genees.
Toe die Sunamitiese vrou se seun sterf het Elísa gebid en op die seun gelê totdat die seun warm geword het - 2 Konings 4:1-37.
Naäman, die weermagleier van die koning van Aram, was melaats - 2 Konings 5. Hulle het Elísa om hulp gevra. Naäman moes homself 7 keer in die Jordaanrivier gaan was. Hy is genees en sy vel het soos die van ‘n jongman geword.
Elísa het later siek geword en gesterf.
“EN toe Elísa siek was aan die siekte waaraan hy sou sterwe, het Joas, die koning van Israel, afgekom na hom en oor hom geween en gesê: My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters!”
II KONINGS 13:14 AFR53
Na Elísa se dood het ‘n dooie in sy graf beland en hy het lewendig geword nadat hy aan Elísa se dooie beendere geraak het - 2 Konings 13:21.
Met die wet het God ‘n verbond gesluit met die Israeliete. As hulle die wet gehoorsaam sou goeie dinge gebeur. Indien nie sou slegte goed gebeur.
Wat jy saai sou jy maai. In die Ou Testament het mense dikwels self siekte en onheil oor hulle gebring.
“Die Here sal maak dat die pes jou aankleef totdat Hy jou vernietig uit die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem. Die Here sal jou swaar tref met tering en koors en vurige koors en ontsteking en droogte en brandkoring en heuningdou; en hulle sal jou vervolg totdat jy omkom.”
DEUTERONÓMIUM 28:21-22 AFR53“HY wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. Ek sal tot die Here sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou. Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes. Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is 'n skild en pantser. Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie! Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand — na jou sal dit nie aankom nie. Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien. Want U, Here, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak. Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie; want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë. Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie. Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap. Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken. Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee. Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.”
PSALMS 91:1-16 AFR53“Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees, wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van 'n arend.”
PSALMS 103:3, 5 AFR53