SIMON PETRUS
- 3 minutes read - 487 wordsJohannes 1:35-52, Matthéüs 16:13-23,
Andreas en sy broer Simon was van die eerste dissipels wat Jesus gevolg het. Op ‘n keer het Jesus die dissipels gevra wie dink hulle is Hy?
“En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.”
MATTHÉÜS 16:16-18 AFR53
Simon beteken riet. Ons weet ‘n riet waai in die wind en is nie baie standvastig nie.
Simon Bar-Jona beteken Simon, seun van Jona.
Petrus wat rots beteken was nou Simon se nuwe naam.
Petrus het ‘n openbaring gehad wie Jesus is.Hy het besef dat Jesus die Messias en die Seun van God was. Jesus was die rots - 1 Korinthiërs 10:4. Op hierdie openbaring dat Jesus ons rots is, is die hele gemeente gebou.
Lewens verander wanneer hulle besef wie Jesus is. Petrus se lewe het nie dadelik verander nie. Dit was ‘n proses en hy het steeds slegte besluite geneem. Petrus sou later weer soos ‘n riet doelloos rondwaai toe hy die soldaat wou keer om Jesus gevangene te neem en toe hy Jesus verloën het - Johannes 18:10-11, Matthéüs 26:69-75. Jesus het Petrus se potensiaal raakgesien. Petrus was vol vertroue in die Rots (Jesus) nadat die Heilige Gees uitgestort is. Hy het siekes genees en selfs sy skaduwee het krag gehad.
“En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue, sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee op iemand van hulle sou val. En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaargekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees.”
HANDELINGE 5:14-16 AFR53
“Maar Petrus sê: Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop! Toe gryp hy hom aan sy regterhand en rig hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword. En hy het opgespring en gestaan en rondgeloop en saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy rondloop en spring en God prys.”
HANDELINGE 3:6-8 AFR53
Die riet het ‘n rots geword. Petrus het verander van ‘n ongeskoolde vissersman na ‘n man vol Heilige Gees insig en krag. Elke mens se lewe kan verander wanneer hulle Jesus leer ken en hulself oorgee om deur die Heilige Gees gelei te word. Jesus het ook ‘n plan vir jou lewe.