SIPPÓRA - MOSES SE VROU
- 3 minutes read - 579 wordsLees Exodus 2, 3, 4:18-26 en 18:1-12.
Moses het in die farao se huis groot geword. Toe hy sy familie besoek het hy gesien hoe ‘n Egiptenaar vir ‘n Hebreër slaan. Moses het die Egiptenaar doodgemaak en toe ander Hebreeuse manne daarvan uitvind, het Moses gevlug. Hy het in Midian vir die 7 dogters van Rehuel/Jetro gehelp om water te skep en gevolglik is hy uitgenooi na hulle woonplek.
“En Moses het ingewillig om by die man te bly, en hy het aan Moses sy dogter Sippóra gegee.”
EXODUS 2:21 AFR53
Moses het Jetro se vee opgepas toe hy God by die brandende bos ontmoet het en sy roeping ontvang het. Veeboere was gewoonlik nomadies en daarom is dit moeilik om presies te bepaal in watter area Midian was. Die meeste skrywers dink dit was deel van Arabië, naby die Rooi See. Sippóra word ook ‘n Kusiet genoem en Mirjam en Aäron het ‘n probleem daarmee gehad - Númeri 12:1. God het nie ‘n probleem met Sippóra gehad nie en gevolglik was Mirjam vir 7 dae lank melaats. Kus was in Afrika. Sommige skrywers dink Kus was in Ethiopië, terwyl ander dink dit kan al die lande by die Horing van Afrika - Ethiopië, Somalië, Eritrea en Djiboeti - wees.
Hábakuk het ‘n profesie oor Kusan en Midian gehad. Al 2 groepe het in tente gewoon en ek neem aan Jetro en sy familie het rondgetrek tussen Arabië en Afrika.
“Ek sien die tente van Kusan met onheil oordek, en die tentdoeke van die land Mídian bewe.”
HÁBAKUK 3:7 AFR53
Nadat God vir Moses geroep het om die Israeliete uit Egipte te lei het Moses eers na Jetro gegaan. Moses het vir sy skoonpa toestemming gevra om terug te keer na Egipteland. Jetro was ‘n Midianitiese priester. God wou Moses doodmaak en Sippóra, sy vrou, het inderhaas hulle seun besny. Midian was een van Abraham se kinders by Ketúra - Génesis 25:1-2. Abraham het sy kinders besny en ek neem aan die Midianiete (Midian se nageslag) het geweet van besnydenis. Sommige skrywers dink dat die Midianiete ouer seuns besny het en nie babas nie. Moses het in die farao se huis groot geword en het waarskynlik nie gedink of geweet dat besnydenis 8 dae na die geboorte van ‘n seun plaasvind nie. Sippóra moes skielik aksie neem om Moses se lewe te red. Sippóra was ongelukkig omdat sy haar seun moes besny. Dit wil voorkom of sy en haar 2 seuns teruggekeer het na Jetro in Midian. Hulle is later met Moses herenig in die woestyn. Moses se getuienis het Jetro laat glo dat daar net een God is.
“het Jetro, Moses se skoonvader, Sippóra, die vrou van Moses, geneem — nadat hy haar teruggestuur het — en haar twee seuns. (Die naam van die een was Gersom, want hy het gesê: Ek het 'n vreemdeling geword in 'n vreemde land; en die naam van die ander was Eliëser; want, het hy gesê, die God van my vader is my hulp en het my van Farao se swaard verlos.)”
EXODUS 18:2-4 AFR53
Selfs nadat Moses ‘n man vermoor het en moes vlug het God vir hom ‘n plan gehad. Moses moes so alleen gevoel het. Hy kon nie teruggaan na die farao se huis of na die Israeliete nie. God het op die regte tyd vir Sippóra in sy lewe laat kom. God het Moses geseën met ‘n nuwe familie en God het steeds vir Moses gebruik.