SKIETLOOD
- 3 minutes read - 443 wordsSkietlood/ “Plumbline”
Amos 7 handel oor die skietlood wat gebruik word om te kyk of ‘n gebou regop gebou is. ‘n Skietlood is ‘n koord met ‘n gewig daaraan wat reguit sal hang as jy dit teen ‘n muur hou. Jy kon dus bepaal of ‘n muur regop is. Die skietlood in die Bybel verwys na God se oordeel. Dit bepaal of jy ‘n regop/reguit/regverdige pad stap om die bruid van God te wees.
In Sagaría 4 sê God dat Serubbábel wat die fondamente van die tempel gelê het, ook die tempel moes voltooi. Serubbábel het ‘n skietlood in sy hande gehad vir die bouwerk. God se 7 oë het alles dopgehou om te oordeel wanneer iets met God se bouwerk wou inmeng. God het ‘n geestelike skietlood gehad wat seker gemaak het dat Sy wil sou gebeur.
In 2 Konings 21 volg Manasse (12) sy pa Hiskia op as koning. Hiskia het God gevolg en die Bybel sê daar was geen ander koning soos hy nie (2 Konings 18:5, 23:25). Ten spyte van die feit dat Manasse met God groot geword het en die goeie voorbeeld van sy pa gehad het, het Manasse gekies om gruwelike sonde te doen. Manasse se sonde was erger as nasies wat glad vir God gevolg het nie. Daar was baie bloedvergieting en hy het sy volgelinge ook laat sonde doen.
“En Ek sal oor Jerusalem die meetsnoer van Samaría span en die skietlood van die huis van Agab, en Jerusalem wegvee soos 'n mens 'n skottel uitvee: hy vee dit uit en keer dit onderstebo.”
II KONINGS 21:13 AFR53
Wanneer God se “meetsnoer” en “skietlood” uitkom veroorsaak dit dat die koning van Assirië vir Manasse in kettings wegvoer na Babel (2 Kronieke 33). Manasse was so angstig dat hy na God gedraai het en om vergifnis gevra het. Manasse het gemaai wat hy gesaai het, tog het ons liefdevolle Vader hom vergewe. Manasse kon terugkeer na Jerusalem as koning en het vir 55 jaar regeer oor Jerusalem. God se “skietlood” het Manasse gehelp om terug te keer na God. Vandag as jy voel asof jy God se “skietlood” ervaar wil ek jou herinner dat God met ope arms wag om jou terug te ontvang. Dit is wat die verlore seun ervaar het. Deur sy eie toedoen het hy sy rug op sy vader gedraai. Sy omstandighede was haglik, tot die varke het beter kos as hy gehad. Alles het verander toe hy kies om na sy vader terug te keer (Lukas 15:11-32).
“Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!”
JAKOBUS 4:8 AFR53