Skree jy ÍKABOD?
Janine Forsyth
- 5 minutes read - 880 wordsLees 1 Samuel 1-7.
Ongeveer 1100 v.C. was daar ‘n vrou met die naam Hanna wat gesukkel het om swanger te word. Hanna het by die tent van ontmoeting ‘n gelofte gemaak dat as God haar met ‘n seun seën sal sy hom teruggee vir God. Samuel het by Elí in Silo groot geword waar die tent gestaan het. Elí het nie van God gehoor nie en sy seuns het sonde gedoen. Samuel het God se stem gehoor en visioene gekry.
Die Filistyne het Israel aangeval en 4000 Israeliete is dood. Daar is besluit om die verbondsark na die laer te bring. In die verlede het God die Jordaanrivier laat opdroog en die mure van Jérigo laat val wanneer die verbondsark teenwoordig was. Hierdie keer het die verbondsark nie gehelp nie. Die Filistyne het steeds die Israeliete verslaan. Hulle het die verbondsark gesteel en 30 000 Israeliete is dood in die geveg. Elí se 2 seuns Hofni en Pínehas het ook gesterf. Toe Elí die nuus hoor oor die verbondsark het hy dood neergeval. Toe Pínehas se swanger vrou die treurige tyding hoor het sy geboorte geskenk aan ‘n seun. Sy het haar seun Íkabod genoem voordat sy gesterf het.
Íkabod - “the glory has departed”. “Weg is die eer van Israel.” Die heerlikheid van God het Israel verlaat.
Kabod = “glory”/heerlikheid van God, tasbare teenwoordigheid van God.
Soms lyk alles van buite, baie godsdienstig en reg, maar dis niks anders as dooie godsdiens nie. Amos, Jesaja en Maleági het ‘n paar honderd jaar later profeteer teen oppervlakkige godsdiens.
“Ek haat, Ek versmaad julle feeste en het geen welgevalle aan julle feestye nie. Want al bring julle vir My brandoffers saam met julle spysoffers, Ek het daar geen welbehae in nie, en die dankoffer van julle vetgemaakte kalwers sien Ek nie met welgevalle aan nie. Verwyder van My die geraas van jou liedere! En na die geluid van jou harpe wil Ek nie luister nie. Maar laat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos 'n standhoudende stroom.”
AMOS 5:21-24 AFR53“Julle nuwemane en julle feestye haat my siel; hulle is My 'n oorlas. Ek is moeg om dit te dra. En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed. Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee.”
JESAJA 1:14-17 AFR53“'n Seun eer die vader, en 'n kneg sy heer. As Ek dan 'n Vader is, waar is my eer? En as Ek 'n Heer is, waar is die vrees vir My? sê die Here van die leërskare aan julle, o priesters, wat my Naam verag! Maar julle sê: Waardeur het ons u Naam verag? Ag, was daar maar iemand onder julle wat die deure wou sluit, sodat julle nie tevergeefs vuur op my altaar kan aansteek nie! Ek het in julle geen welgevalle nie, sê die Here van die leërskare, en in 'n offer uit julle hand het Ek geen behae nie. Julle daarenteen ontheilig dit as julle sê: Die tafel van die Here is verontreinig, en wat sy opbrings betref — sy spys is veragtelik. En julle sê: Kyk, wat 'n moeite! En julle verag dit, sê die Here van die leërskare; en julle bring geroofde en lam en siek diere — so bring julle dan die offer! Kan Ek dit met welgevalle uit julle hand aanneem? sê die Here. Vervloek is ook die bedrieër wat, terwyl daar onder sy kleinvee 'n manlike dier is, 'n gelofte doen en tog iets wat vermink is, aan die Here offer; want Ek is 'n groot Koning, sê die Here van die leërskare, en my Naam is gedug onder die heidene.”
MALEÁGI 1:6, 10, 12-14 AFR53
God se heerlikheid was nie in die tempel in die dae van Jesus nie. Dooie rituele, vals wetgewing en swaar laste was op die mense geplaas. Jesus was egter omring met God se heerlikheid. Jesus het mense geleer om self God se heerlikheid te ervaar. Jesus het vir ons geleer dat ‘n persoonlike verhouding met die Vader nodig was om ons harte te verander. God woon nie in tempels wat mense gebou het nie; God woon in ons harte.
“En meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig.”
LUKAS 2:9 AFR53
Dit so maklik om te sê God se heerlikheid het die hedendaagse kerk verlaat. Of dis íkabod en die kerk het sy eerste liefde verloor. Jesus het in die tempel met die mense gepraat, maar het ‘n baie groter impak buite die tempel gehad. Jy kan op jou eie in jou stiltetyd God se heerlikheid ervaar. Jy kan ‘n verskil maak waar jy ook gaan in die wêreld. Samuel en Jesus het ‘n verskil gemaak. Kom ons vul die hele aarde met God se heerlikheid.
“En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!”
JESAJA 6:3 AFR53