SLANGE IN DIE BYBEL
Janine Forsyth
- 16 minutes read - 3229 wordsVan die begin af was die slang ‘n probleem vir die mensdom. In Afrikaans gebruik ons meestal net die woord slang. Die Bybel gebruik verskillende Hebreeuse en Griekse woorde vir die slang.
NACHASH
Die meeste verse in die Ou Testament gebruik die woord “nachash” vir die slang.
STRONG’S H5175 - slang, “serpent”, mitologiese wese van chaos wat teen God was.
TPT (THE PASSION TRANSLATION -voetnota Génesis 3:1) verduidelik dat die Hebreeuse “nachash” op 3 maniere gebruik kan word.
- As ‘n selfstandige naamwoord is dit net ‘n gewone slang.
- As ‘n werkwoord dui dit op die beoefening van waarseêry - slang kan vertaal word as die waarseêr of die misleier.
- As ‘n byvoeglike naamwoord beteken dit blink, soos iets wat gepoleer is - slang kan dan vertaal word as die blink een (Lucifer) wat die Afrikaanse Bybel vertaal as die môrester in Jesaja 14:2.
Almal weet van Adam, Eva, die slang en die verbode vrugte. Hierdie slang het gepraat en het waarskynlik bene en voete gehad. Jesus het gekom en die slang vermorsel deur sondevry te sterf en op te staan. Jesus is die deur wat jou toegang gee om met God te praat en verhouding te bou.
“MAAR die slang was listiger as al die diere van die veld wat die Here God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken. En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.”
GÉNESIS 3:1, 4-5, 15 AFR53
Moses se God kon ‘n staf in ‘n slang verander en andersom. Die slang was ‘n simbool van die farao se gode. God het dus outoriteit gehad oor die slang. Wanneer God deur Moses gewerk het, het Moses ook outoriteit gehad oor die slang.
“En Hy sê: Gooi dit op die grond. Toe gooi hy dit op die grond, en dit het 'n slang geword; en Moses het daarvoor gevlug. Toe sê die Here vir Moses: Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert. Hierop het hy sy hand uitgesteek en dit gegryp, en dit het 'n staf in sy hand geword — sodat hulle kan glo dat die Here, die God van hulle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, aan jou verskyn het.”
EXODUS 4:3-5 AFR53
“Hy (Hískia) het die hoogtes afgeskaf en die klippilare verbreek en die heilige boomstamme omgekap en die koperslang wat Moses gemaak het, stukkend gestamp, omdat die kinders van Israel tot op dié dae daarvoor offerrook laat opgaan het; en hy het dit Nehústan genoem.”
II KONINGS 18:4 AFR53
“Deur sy (God) asem word die hemel helder; sy hand het die vinnige slang deurboor.”
JOB 26:13 AFR53
ADDER
Vier verskillende Hebreeuse woorde word vertaal as adder in Afrikaans.
- STRONG’S H8207 - “snapping serpent or horned adder”, horingslang
Toe Jakob vir sy seuns seën voordat hy sterf word Dan ‘n slang genoem. Dan word ook nie gelys as een van die 12 stamme in Openbaring 7 of in 1&2 Kronieke nie.
“Laat Dan 'n slang (nachash) wees op die weg, 'n horingslang (adder) op die pad, wat die perd aan die hakskene byt, sodat sy ruiter agteroorval.”
GÉNESIS 49:17 AFR53
- H6620 - pethen - adder, kobra of adder (“viper”)
“Hulle het gif soos die gif van 'n slang; soos 'n dowe adder (pethen) wat sy oor toestop,”
PSALMS 58:5 AFR53
- STRONG’S H5119 - “akshub” - “to coil”, asp, adder (“viper”) of ‘n spinnekop
“Hulle maak hul tong skerp soos 'n slang; gif van 'n adder (askhub) is onder hulle lippe. Sela.”
PSALMS 140:4 AFR53
- STRONG’S H6848 - “tsepha tsiphoniy” - dit kom van die woord uitdryf, verdryf, verstoot of wegjaag, “viper”, adder, giftige slang, basilisk
“Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie: op die end byt dit soos 'n slang en spuug gif uit soos 'n basilisk.”
SPREUKE 23:31-32 AFR53
TANNIN
Tannin word meestal in Afrikaans vertaal as draak. Farao en Nebukadnésar word vergelyk met ‘n draak omdat hulle teen God gesondig het.
STRONG’S H8577 - slang, “serpent”, monster uit die diepte, mitologiese monster wat teen God was, jakkals, groot see wesens/ monsters, draak, walvis.
“As Farao met julle spreek en sê: Doen tog 'n wonderteken vir julleself — dan moet jy vir Aäron sê: Neem jou staf en gooi dit voor Farao neer; dan sal dit 'n slang (tannin) word. Toe het Moses en Aäron na Farao gegaan en gedoen net soos die Here hulle beveel het: Aäron het sy staf voor Farao en voor sy dienaars neergegooi, en dit het 'n slang (tannin) geword. Daarop laat Farao óók die wyse manne en die towenaars roep; en hulle, die Egiptiese towenaars, het ook dieselfde gedoen met hulle towerkunste: elkeen gooi sy staf neer, en hulle word slange! Maar Aäron se staf het hulle stawwe verslind. Gaan môre vroeg na Farao toe — kyk, hy sal uitgaan na die water; staan dan aan die kant van die Nyl om hom te ontmoet; en neem die staf wat in 'n slang (nachash) verander het, in jou hand,”
EXODUS 7:9-12, 15 AFR53
“IN dié dag sal die Here met sy harde en groot en sterk swaard besoeking doen oor die Leviátan, die vinnige slang, en oor die Leviátan, die kronkelende slang; en Hy sal die draak (tannin) doodmaak wat in die groot water is.”
JESAJA 27:1 AFR53
“Ontwaak, ontwaak, beklee u met sterkte, arm van die Here! Ontwaak soos in die dae van die voortyd, onder die geslagte van lank gelede. Is dit nie u wat Rahab neergekap, wat die seemonster (tannin) deurboor het nie?”
JESAJA 51:9 AFR53
“Nebukadrésar, die koning van Babel, het my opgeëet, my vernietig; hy het my neergesit soos 'n leë skottel; hy het my verslind soos 'n draak (tannin); hy het sy buik met my lekkernye gevul; hy het my weggestoot.”
JEREMIA 51:34 AFR53
“Spreek en sê: So spreek die Here Here: Kyk, Ek het dit teen jou, o Farao, koning van Egipte, jou groot draak (tannin) wat in jou strome lê, wat sê: My stroom is myne, en ek het dit vir my gemaak.”
ESÉGIËL 29:3 AFR53
LEVIÁTAN
STRONG’S H3882 - seemonster, draak, groot waterdier, krokodil, simbool van Babilon
Volgens die Bybel God het vir Leviátan geskep; satan was eers ‘n engel voordat hy gesondig het - Eségiël 28, Jesaja 14. Jesus het satan se kop vermorsel met Sy kruisdood en opstanding. Eendag sal God finaal vir Leviátan in die poel van vuur en swawel werp - Openbaringe 20.
“NIEMAND is so vermetel, dat hy hom durf terg nie; wie is hy dan wat voor My sou standhou?”
JOB 41:1 AFR53
Job 41:1 KJV
Canst thou draw out leviathan with an hook? or his tongue with a cord which thou lettest down?
“Nogtans is God my Koning van die voortyd af, wat verlossinge werk op die aarde. Ú het deur u sterkte die see geklief; Ú het die koppe van die seemonsters op die waters verbreek. Ú het die koppe van die Leviátan verbrysel; U het hom gegee as voedsel vir 'n volk — vir woestyndiere.”
PSALMS 74:12-14 AFR53
“Hoe talryk is u werke, o Here! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele! Daar is die see, groot en alkante toe wyd — daar is 'n gewemel sonder getal, klein diere saam met grotes. Daar gaan die skepe en die Leviátan wat U geformeer het om daarin te speel. Hulle almal wag op U, dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd.”
PSALMS 104:24-27 AFR53
“IN dié dag sal die Here met sy harde en groot en sterk swaard besoeking doen oor die Leviátan, die vinnige slang, en oor die Leviátan, die kronkelende slang; en Hy sal die draak doodmaak wat in die groot water is.”
JESAJA 27:1 AFR53
DRAKON
Die woord drakon word 13 keer in die boek Openbaringe gebruik. Daar is geen twyfel dat die draak en die slang na satan verwys nie.
STRONG’S G1404 - draak, die duiwel/satan, slang/“serpent”
“En 'n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was 'n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone; en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi. En die draak het gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het. En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp. En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het; En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het. En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.”
OPENBARING 12:3-4, 7, 9, 13, 16-17 AFR53
“En die dier wat ek gesien het, was soos 'n luiperd, en sy pote soos dié van 'n beer, en sy bek soos die bek van 'n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag. En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? EN uit die aarde het ek 'n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos 'n lam en het gepraat soos 'n draak.”
OPENBARING 13:2, 4, 11 AFR53
“En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom.”
OPENBARING 16:13 AFR53
“En hy het die draak gegryp — die ou slang wat die duiwel en die Satan is — en hy het hom gebind duisend jaar lank,”
OPENBARING 20:2 AFR53
SARAPH
STRONG’S H8314 - giftige slang, vurige slang, seraf (6 vlerk wesens), serafs/ “seraphim”, vurige wesens
Satan, die slang of draak, was waarskynlik ‘n seraf voordat hy geval het.
“Toe stuur die Here giftige slange (saraph) onder die volk wat die volk gebyt het; en baie mense uit Israel het gesterwe.”
“Daarop sê die Here aan Moses: Maak vir jou 'n giftige slang (saraph) en sit dit op 'n paal; dan sal elkeen wat gebyt is en daarna kyk, lewe. Toe het Moses 'n koperslang (nachash) gemaak en dit op 'n paal gesit: en as 'n slang (nachash) iemand gebyt het en hy kyk na die koperslang (nachash), het hy in die lewe gebly.”
NÚMERI 21:6,8-9 AFR53
God het die Israeliete deur “saraph nachash” gebring en vir hulle water uit die Rots voorsien. God het die Israeliete weggelei uit slawerny na ‘n land van melk en heuning. Hy het hulle weggelei van satan en gebring na ‘n plek waar hulle vir God kon volg en Hy het vir hulle kon sorg.
“wat jou deur die groot en vreeslike woestyn gelei het, deur giftige/
“fiery” (saraph) slange (nachash) en skerpioene en 'n dorsland sonder water; wat vir jou water uit die klipharde rots laat kom het;”
DEUTERONÓMIUM 8:15 AFR53
“Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg. Maar een van die serafs het na my toe gevlieg met 'n gloeiende kool in sy hand, wat hy met 'n tang van die altaar af geneem het,”
JESAJA 6:2, 6 AFR53
Die Afrikaans 53 Bybel het die woord vurige (saraph) uitgelaat.
“Wees nie bly, o ganse land van die Filistyne, dat die roede verbreek is wat jou geslaan het nie; want uit die wortel van die slang (saraph) sal 'n basilisk voortkom, en sy vrug sal 'n vlieënde draak (saraph) wees.”
JESAJA 14:29 AFR53
Isaiah 14:29 KJV
Rejoice not thou, whole Palestina, because the rod of him that smote thee is broken: for out of the serpent's (saraph’s) root shall come forth a cockatrice, and his fruit shall be a fiery (saraph) flying serpent (saraph).
PYTHON
STRONG’S G4436 - slang of draak, gees van waarsêery/“divination”
God het vir Paulus opdrag gegee om na Macedonië te gaan - Handelinge 16:9-40. Hy was gehoorsaam en het die Woord verkondig. Lídia en haar hele huisgesin is gedoop. Vir baie dae het ‘n slavin met ‘n waarsêende gees vir hulle gevolg en getreiter. Toe Paulus genoeg gehad het daarvan het hy omgedraai en die python gees bestraf en uit die vrou gestuur.
“En dit het sy baie dae lank gedoen; maar baie ontevrede daaroor, het Paulus hom omgedraai en vir die gees gesê: Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan. En hy het op dieselfde oomblik uitgegaan.”
HANDELINGE 16:18 AFR53
Die slang kan dus oor ‘n tydperk vir ‘n mens treiter en wanneer jy dit nie langer toelaat nie kan jy dit bestraf. Soms laat ons die slang toe om ons te treiter. Jy moet ‘n punt bereik waar jy genoeg gehad het van die vyand en dan sal jy resultate sien. Jesus het vir jou outoriteit gegee om bose geeste uit te dryf.
JY HET OUTORITEIT OOR DIE SLANG
Satan (die draak/slang) het vir Jesus aan die hakskeen gebyt en Jesus het slang se kop vermorsel - Génesis 3:15. Die mense was verslae oor Jesus se outoriteit. Jesus se dood en opstanding het vir jou en my dieselfde outoriteit gegee.
“Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang (tannin - “dragon/serpent”) vertrap.”
PSALMS 91:13 AFR53
“Later het Hy aan die elf self verskyn toe hulle aan tafel was, en Hy het hulle hul ongeloof en hardheid van hart verwyt, omdat hulle die wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie. En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word. En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word. Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God. Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het. Amen.”
MARKUS 16:14-20 AFR53
Petrus wou nie hê dat Jesus moes sterf nie. Petrus wou onbewustelik teen God se wil optree. Jesus het vir satan beveel om agter Hom te staan. Jesus het geweet dat Hy outoriteit oor satan het. Wanneer ons Heilige Gees ontvang het ons dieselfde outoriteit en kan ons satan beveel om agter ons te staan. Jou rang en posisie is hoër as satan se rang; hy is ‘n gevalle engel wat nooit weer kan terugkeer na die Hemel nie. Jy is ‘n uitverkose kind van die Koning.
“Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word. Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie! Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! (KOM AGTER MY) Jy is vir My 'n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.”
MATTHÉÜS 16:21-23 AFR53
Matthew 16:23 KJV
But he turned, and said unto Peter, Get thee behind me, Satan: thou art an offence unto me: for thou savourest not the things that be of God, but those that be of men.
ADDERGESLAG
Johannes en Jesus het ongelowiges die addergeslag genoem. Was hul fisies of net geestelik saad van satan? Ek weet nie. In die dae van Noag is hibriede gebore, wat nie meer 100% mens was nie. Engele (seuns van God/“watchers”) het kinders by aardse vroue gehad en nephilim (gevallenes/reuse) is gebore. Ou Joodse geskrifte beweer dat Goliat uit die 3 vroue en ‘n hond gebore is. Die Refaiëte, Anakiete en Og die seun van Bashan, was ook reuse. Nimrod was ‘n magtige rebel voor/teen God en was waarskynlik ook ‘n hibried. Volgens Jesus sal die einde wees soos die dae van Noag. Die saad/nageslag van satan sal dan ook op aarde wees. Jesus het reeds die kop van die slang (satan) vermorsel.
“En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.”
GÉNESIS 3:15 AFR53
“En daar was weer oorlog in Gat; en daar was 'n baie lang man, met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet, vier-en-twintig in getal, en hy was ook 'n afstammeling van die Refaïete.”
II SAMUEL 21:20 AFR53
“Kus was ook die vader van Nimrod. Hý het begin om 'n geweldenaar op aarde te wees. Hy was 'n geweldige jagter voor die aangesig van die Here. Daarom sê hulle: Soos Nimrod, 'n geweldige jagter voor die aangesig van die Here.”
GÉNESIS 10:8-9 AFR53
“Maar toe hy baie van die Fariseërs en Sadduseërs na sy doop sien kom, sê hy vir hulle: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is?”
MATTHÉÜS 3:7 AFR53
“Toe sê hy vir die skare wat uitgegaan het om deur hom gedoop te word: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is?”
LUKAS 3:7 AFR53
“Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond.”
MATTHÉÜS 12:34 AFR53
“Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?”
MATTHÉÜS 23:33 AFR53