SOEK JY STEEDS?
- 3 minutes read - 589 words#kleinjakkalse
“Vang julle vir ons die jakkalse, die klein jakkalse wat die wingerde verniel, want ons wingerde staan in die bloei.”
HOOGLIED 2:15 AFR53
Een van die belangrikste goed om te doen wanneer jy in ‘n verhouding met God is, is om Hom te soek. Ons moet ‘n honger en dors ontwikkel vir Sy dinge. Ons vlees moet ons nie langer beheer nie. Ons moet deur die Heilige Gees gelei word. Die “klein jakkals” wat hier insluip is ‘n siklus van honger, dors en soek wat nooit ophou nie. Wanneer die vyand jou nie langer kan beheer nie probeer hy jou vasvang in ‘n siklus wat nooit eindig nie.
“En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.”
JEREMIA 29:13 AFR53
“Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.”
MATTHÉÜS 7:7-8 AFR53
“Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.”
MATTHÉÜS 5:6 AFR53
“Jesus antwoord en sê vir haar (Samaritaanse vrou): Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word 'n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.”
JOHANNES 4:13-14 AFR53
“En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.”
JOHANNES 6:35 AFR53
Die Bybel maak dit baie duidelik dat wanneer ons God soek ons Hom sal vind. Jesus is die lewende water wat ons dors permanent kan stop.
Hy is die brood van die lewe wat ons honger permanent kan versadig. Jy kan dus ‘n punt bereik waar jy so vol van Jesus is dat jy bruikbaar word vir Sy koninkryk. Baie Christene bly babas wat elke Sondag met ‘n bottel gevoer moet word. Babas kry melk sodat hulle kan groei.
“en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei,”
I PETRUS 2:2 AFR53
“Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat 'n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy 'n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.”
HEBREËRS 5:12-14 AFR53
“EN ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie,”
I KORINTHIËRS 3:1-2 AFR53
Moenie dat hierdie “klein jakkals” jou wingerd verniel nie. Hoe lank wil jy nog vasgevang wees in hierdie siklus? Ons moet geestelik volwasse word. Jy is hier op Aarde om ‘n verskil te maak. Jy het reeds alles ontvang om jou roeping uit te leef. Jesus het jou so lief dat Hy vir jou gesterf het. Leef vandag jou beste lewe vir Hom.