STEM JESUS
- 3 minutes read - 530 wordsIn die Ou Testament lees ons baie verhale van slegte konings wat afgode aanbid en gevolglik gaan dit sleg met God se kinders. Wanneer ‘n koning God aanbid het, het dit goed gegaan met God se kinders. Sedekia was die laaste koning van Juda en weens sy sonde het die koning van Babel die land ingeneem. Nebukadnésar het die Jode in ballingskap weggevoer en die eerste tempel is verwoes - 586v.C. Later gee Kores (koning van Persië) toestemming dat die Jode terugkeer na Israel en die tweede tempel word herbou - 520v.C.
In die Nuwe Testament het die Romeine vir Herodes die koning van Israel gemaak. Jesus, die ware koning van die Jode, word nooit offisieel koning nie. Hy was en is steeds koning vir elke verlore siel wat Hom vind. Die koning se sonde het nie meer die hele gemeenskap beïnvloed nie. Elke persoon moes self kies of hulle perfekte Koning Jesus wou volg. Dit bly ‘n individuele besluit. Ons opdrag is om is om God se koninkryk te bou.
“Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;”
MATTHÉÜS 6:9-10 AFR53
Omstandighede op aarde was nie perfek vir Jesus nie. Sy koms het nie skielik alles verander nie. Die berg van die regering het steeds aan die vyand behoort, maar ten spyte daarvan het Jesus steeds God se koninkryk gebou. Volgende week is dit verkiesing en as alles perfek was het ons een Christen party gehad, maar nou het ons sewe. My gebed was: “Jesus, vir wie stem ek?” Sy antwoord was: “Stem Jesus.” Ek glo Heilige Gees sal vir my wys waar om Woensdag my kruisie te trek en intussen bou ek aan Sy koninkryk. In alles wat ek doen kan ek Jesus kies.
Ons sien uit na die toekoms waar Koning Jesus sal regeer en alles perfek sal wees.
“En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.”
OPENBARING 19:16 AFR53
“En ek het 'n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar. En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet. Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom 'n God wees, en hy sal vir My 'n seun wees.”
OPENBARING 21:3-7 AFR53