STERRE
- 10 minutes read - 2084 wordsSterre is geskep om lig te verskaf in die Hemel en skeiding te bring tussen die donkerte en die lig.
“En God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare. Laat hulle ook dien as ligte aan die uitspansel van die hemel om lig te gee op die aarde. En dit was so. God het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre.”
GÉNESIS 1:14-16 AFR53
“Hy wat die Sewe-ster en die Oríon gemaak het en die duisternis in môrelig verander en die dag tot nag verduister, wat die waters van die see roep en dit uitgiet oor die oppervlakte van die aarde — Here is sy Naam!”
AMOS 5:8 AFR53
God is groot en almagtig. Hy weet presies hoeveel sterre Hy geskep het en elkeen het ‘n naam.
“Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.”
PSALMS 147:4 AFR53
“IS God nie hemelhoog nie? En aanskou hoe hoog die hoogste sterre staan.”
JOB 22:12 AFR53
“Loof Hom, son en maan, loof Hom, alle ligtende sterre!”
PSALMS 148:3 AFR53
Die bekendste ster in Die Bybel is seker Bethlehem se ster, wat die sterrekykers gevolg het tot in Jerusalem. Die ster het die koms van die nuwe Koning van die Jode aangekondig. Die ster het uiteindelik gestop in Bethlehem waar Jesus gebore is. Bethlehem se ster was ‘n boodskapper en rigtingwyser. Bethlem se ster het die koms van die Lig van die wêreld aangewys.
“en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.
Toe het Herodes die wyse manne in die geheim geroep en hulle na die tyd van die ster se verskyning uitgevra; en hy het hulle na Betlehem gestuur en gesê: Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom vind, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en Hom hulde bewys. En nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, gaan voor hulle uit totdat hy kom en bly staan bo-oor die plek waar die Kindjie was. En toe hulle die ster sien, het hulle hul met baie groot blydskap verheug. En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre. En omdat hulle in 'n droom 'n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met 'n ander pad na hul land teruggegaan.”
MATTHÉÜS 2:2, 7-12 AFR53
Johannes het 7 sterre gesien; die sterre was die 7 engele van die 7 gemeentes. Sterre kan dus ‘n simbool wees vir engele.
“en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met 'n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met 'n goue gordel. Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos 'n vuurvlam, en sy voete soos blink koper wat gloei soos in 'n oond, en sy stem soos die stem van baie waters. En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en 'n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag.
die verborgenheid van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en die sewe goue kandelaars: die sewe sterre is die engele van die sewe gemeentes, en die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes.”
OPENBARING 1:13-16, 20 AFR53
Debóra sê in haar lofsang selfs dat die engele teen Sísera geveg het. Débora, Barak en Jael het met God en die engele se hulp die Kanaäniete verslaan.
“Uit die hemel het die sterre geveg, uit hulle bane het hulle teen Sísera geveg;”
RIGTERS 5:20 AFR53
Kinderlose Abraham het opgekyk na die hemelruim en ‘n magdom sterre gesien wat sy nageslag voorgestel het. Isak het dieselfde belofte ontvang. Die sterre was ‘n simbool van al die geslagte wat God sal volg.
“Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees. En hy het in die Here geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.”
GÉNESIS 15:5-6 AFR53
“en sê: Ek sweer by Myself, spreek die Here, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.”
GÉNESIS 22:16-18 AFR53
“Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee: Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het. En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word;”
GÉNESIS 26:3-4 AFR53
“Sewentig siele sterk het jou vaders na Egipte afgetrek, maar nou het die Here jou God jou gemaak soos die sterre van die hemel in menigte.”
DEUTERONÓMIUM 10:22 AFR53
Josef het gedroom dat die son, maan en 11 sterre voor hom neerbuig - Génesis 37. Jakob het Josef bestraf toe hy die droom met hulle deel. Baie jare later het die profetiese droom waar geword - Génesis 41:46-57; 42-46. Die 11 sterre in Josef se droom was ‘n simbool van sy 11 broers.
Die Hebreeuse Hadassah het ‘n nuwe Persiese naam gekry, Ester, wat “ster” beteken. Ester was ‘n ster toe sy die koning om genade gevra het en die Jode gered het van ‘n massamoord.
Daar is ook ‘n negatiewe kant. Ongehoorsame en rebelse mense het die stergod aanbid. God het die Israeliete gewaarsku om nooit die son, maan of sterre te aanbid nie. Judas noem hierdie rebelse mense “dwaalsterre”.
“dat jy ook jou oë nie na die hemel opslaan, en as jy die son sien en die maan en die sterre, die hele leër van die hemel, jou laat verlei en voor hulle neerbuig en hulle dien nie — dinge wat die Here jou God aan al die volke onder die hele hemel uitgedeel het.”
DEUTERONÓMIUM 4:19 AFR53
“en ook gedra Sakkut, julle koning, en Kewan, julle beelde, julle stergod wat julle vir julle gemaak het?”
AMOS 5:26 AFR53
“Ja, julle het die tent van Molog opgeneem en die ster van julle god Remfan, die beelde wat julle gemaak het om hulle te aanbid. En Ek sal julle anderkant Babilon wegvoer.”
HANDELINGE 7:43 AFR53
“woeste golwe van die see wat hulle eie skandes laat opskuim, dwaalsterre vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word.”
JUDAS 1:13 AFR53
Jesus het satan sien val. Hilel/Helel was die mooiste engel, maar hy was trots en wou soos God wees - Eségiël 28:13-19. Gevolglik het hy en ‘n derde van die engele geval. Hilel het ‘n nuwe naam gekry, want hy was nie langer deel van God (El) nie. Lucifer beteken liggewer en hy doen homself voor as ‘n engel van die lig. Hy probeer ook om die môrester te wees, maar Jesus is die ware blink Môrester.
“Toe sê Hy vir hulle: Ek het die Satan soos 'n bliksem uit die hemel sien val.”
LUKAS 10:18 AFR53
“Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jý het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil! Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het?”
JESAJA 14:12-16 AFR53
“En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.”
OPENBARING 12:9 AFR53
“En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in 'n engel van die lig.”
II KORINTHIËRS 11:14 AFR53
“Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.”
OPENBARING 22:16 AFR53
Na die tribulasie sal die son verduister, die maan sal sy glans verloor en sterre sal val voordat Jesus terugkeer as Koning. Die sterre wat val is simbolies van satan en sy volgelinge wat finaal val.
“EN dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.”
MATTHÉÜS 24:29-30 AFR53
“MAAR in daardie dae, ná dié verdrukking, sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre van die hemel sal val, en die kragte wat in die hemele is, sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens op die wolke sien kom met groot krag en heerlikheid.”
MARKUS 13:24-26 AFR53
“EN daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in 'n wolk, met groot krag en heerlikheid.”
LUKAS 21:25-27 AFR53
“En die derde engel het geblaas, en 'n groot ster wat soos 'n fakkel brand, het uit die hemel geval, en dit het geval op 'n derde van die riviere en op die waterfonteine. En die naam van die ster word genoem Alsem; en 'n derde van die waters het als geword, en baie mense het gesterwe van die water, omdat dit bitter geword het. En die vierde engel het geblaas, en 'n derde van die son is getref en 'n derde van die maan en 'n derde van die sterre, sodat 'n derde van hulle donker sou word en die dag vir sy derde deel nie lig sou gee nie, en die nag net so.”
OPENBARING 8:10-12 AFR53
“EN toe die vyfde engel blaas, sien ek 'n ster wat uit die hemel op die aarde geval het, en aan hom is die sleutel van die put van die afgrond gegee.”
OPENBARING 9:1 AFR53
Die simbool op die Joodse vlag word die ster van Dawid genoem. Dit bestaan uit 2 driehoeke wat oorvleuel. Dit stel ‘n kombinasie van God (Vader, Seun en Heilige Gees) en die mens (liggaam, siel en vlees) voor.
Jood en nie-Jood moet saamwerk in eenheid. Jesus kom vir een bruid.
Alle mense is geskep om een met God te wees. Heilige Gees wil deur elke mens werk sodat ons ‘n helder ster vir Jesus kan wees. Soos ‘n sterretjie in die hemelruim lig bring en skeiding bring tussen die donkerte en lig, moet jy dieselfde doen.
“En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos.”
DANIËL 12:3 AFR53