STOP, MOENIE VERBY STAP NIE
- 2 minutes read - 310 wordsLees Exodus 2,3 & 33.
Ek glo baie van ons mis ervarings met God omdat ons haastig is en net verbystap wanneer iets bo-natuurlik gebeur. Ek het so 3/4 jaar gelede ‘n hele paar vreemde ervarings gehad en toe het dit opgehou. Ek het onlangs stilgesit en gewonder waarom het dit opgehou?
Moses het ‘n brandende doringbos gesien en moes nader stap en aandag gee voordat daar meer gebeur het. God wou Moses se aandag hê. Ek glo dit is goed om nuuskierig te wees as dit by God se dinge kom.
“Daarop verskyn die Engel van die Here aan hom in 'n vuurvlam uit 'n doringbos. En toe hy weer sien, brand die doringbos in die vuur, maar die doringbos word nie verteer nie! En Moses sê: Laat ek tog nader gaan en hierdie groot verskynsel bekyk, waarom die doringbos nie verbrand nie. Toe die Here sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na hom uit die doringbos en sê: Moses, Moses! En hy antwoord: Hier is ek.”
EXODUS 3:2-4 AFR53
Moses se nuuskierigheid het daartoe gelei dat hy God waarlik kon leer ken. God het ook Moses se lewensdoel aan hom bekend gemaak. Moses het geleer dat met God aan sy kant kan hy selfs wonderwerke doen. Moses het sy identiteit in God ontdek. Die hele groep Israeliete is gered uit slawerny en kon trek na die Beloofde Land omdat Moses nader gestap het. Moses het geweier om te beweeg sonder God. God het met Moses gepraat soos met ‘n vriend. Moses wou God se heerlikheid sien en God het hom toegelaat om dit te sien.
Ek wil alles en meer ervaar as Moses. Die geheim lê daarin om nie verby te stap nie. Selfs al dink ander mense jy is verspot, stop en kyk wat God vir jou wil sê. Jou hele lewe kan verander.