STRUIKELBLOKKE
- 3 minutes read - 521 words“‘n Obstruksie waaroor ‘n mens kan struikel, of figuurlik, ‘n hindernis wat oorkom moet word.” (Supertaal woordeboek)
Soos jy nader aan God wil leef sal jy soms ‘n struikelblok of twee moet oorkom. Jy het dalk 2 jaar gelede wonderlike planne vir jou toekoms gehad en nou is jou lewensplan besaai met struikelblokke. God is nie verbaas dat jy hierdie struikeblokke moet oorkom nie. Jy mag dalk in jou hart dink dat daar te veel goed is wat in jou pad staan. God het geweet jy gaan hierdie punt bereik en daarom het Hy vir ons ‘n strategie in Sy Woord gegee.
“As jy in jou hart dink: Hierdie nasies is meer as ek, hoe sou ek hulle kan verdrywe? — wees dan nie bevrees vir hulle nie; dink gedurig aan wat die Here jou God aan Farao en die hele Egipte gedoen het, die groot versoekinge wat jou oë gesien het, en die tekens en die wonders en die sterke hand en die uitgestrekte arm waardeur die Here jou God jou uitgelei het; so sal die Here jou God aan al die volke doen vir wie jy bevrees is. En die Here jou God sal ook die perdebye onder hulle stuur totdat hulle omkom wat oorgebly het en wat vir jou weggekruip het. Skrik nie vir hulle nie, want die Here jou God is by jou, 'n groot en gedugte God. En die Here jou God sal hierdie nasies so langsamerhand voor jou uit verjaag; jy mag hulle nie gou vernietig nie, dat die ongediertes nie teen jou die oorhand kry nie. Maar die Here jou God sal hulle aan jou oorgee en hulle in groot verwarring bring totdat hulle verdelg word.”
DEUTERONÓMIUM 7:17-23 AFR53
Dink aan die volgende:
• God ‘n pad in die Rooi See gemaak het vir die Israeliete.
• God het kos en water aan die Israeliete voorsien vir 40 jaar lank.
• Vir 40 jaar lank het niemand se klere stukkend of te klein geraak nie.
• Jesus het met 2 vissies en 5 broodjies genoeg kos voorsien aan duisende mense.
• Jesus het mense genees, wat lewenslank siek of blind sou bly.
• Jesus het gesterf, is opgewek en sit aan die regterkant van die Vader.
• Ek onthou hoe God finansies voorsien het vir ons nuwe huis, motor en universiteitsfooie. Soms stop die reën wanneer ons Hom vra of hy stuur sneeu wanneer ons wil gaan sneeu kyk.
• Dink aan al die tye wat God jou gehelp het.
As jy vandag enige struikelblokke ervaar, weet God is met jou. Die Israeliete se struikelblokke het nie oornag verdwyn nie. Die wilde diere sou die veld oorneem as al hulle vyande skielik moes verdwyn. God het ‘n plan gehad dat die struikelblokke geleidelik oor tyd oorkom sou word. Wees gerus God het ‘n plan vir jou. Spandeer tyd by God en jy sal elke struikelblok oorkom.
“Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”
SPREUKE 3:6 AFR53
“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
MATTHÉÜS 6:33 AFR53