SUBTIELE MISLEIDING
Janine Forsyth
- 3 minutes read - 473 words“As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind. En bedink tog dat hierdie nasie u volk is. En Hy antwoord: Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf? Toe sê hy vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie.”
EXODUS 33:13-15 AFR53
Die bekendheid van die verlede mag dalk aanloklik lyk. Moses het gekies om met God te beweeg terwyl die Israeliete verlang het na die vleispotte van Egipte.
Israel wou God in Samaria, Bet-el, Gilgal en Berséba aanbid. Juda het God in die tempel in Jerusalem aanbid. In die verlede het Abraham en Jakob vir God aanbid by Bet-el (Huis van God) en dit was goed - Génesis 12,13,28. Gilgal (Wiel, rollend) was die eerste plek wes van die Jordaan en oos van Jérigo, waar die Israeliete uitgekamp het - Josus 4-5. By Berséba (Put van die sewe of die eed) het God aan Hagar verskyn en haar en Ishmael gered. Abraham en Abiméleg het by Berséba ‘n verbond gesluit - Génesis 21. Koning Omri het Samaria gekoop en wou dit ‘n plek van aanbidding maak i.p.v. Jerusalem - 1 Konings 16.
Hierdie plekke was goed in die verlede, maar toe die tempel in Jerusalem opgerig is moes Juda en Israel vir God daar aanbid. God het in die tempel gewoon en Israel het dus vals gode aanbid in Samaria. Israel is misslei deur vas te steek in die verlede. Ons moet saam met God beweeg en nie vassteek in die verlede of vooruit hardloop nie.
“Want die woord sal sekerlik uitkom wat hy deur die woord van die Here uitgeroep het teen die altaar wat in Bet-el is, en teen al die tempels van die hoogtes wat in die stede van Samaría is.”
I KONINGS 13:32 AFR53
“HOOR hierdie woord wat Ek oor julle as klaaglied aanhef, o huis van Israel! Die jonkvrou van Israel het geval, sy sal nie weer opstaan nie; neergewerp lê sy op haar land, niemand rig haar op nie. Want so sê die Here Here: Die stad wat met duisend uitgetrek het, hou honderd oor; en die wat met honderd uitgetrek het, hou tien oor vir die huis van Israel. Want so sê die Here aan die huis van Israel: Soek My, dan sal julle lewe! Maar soek Bet-el nie, en kom nie na Gilgal nie en trek nie deur na Berséba nie. Want Gilgal sal gewis in ballingskap gaan, en Bet-el sal tot niks word nie. Soek die Here, dan sal julle lewe, sodat Hy nie teen die huis van Josef uitbreek soos 'n vuur wat verteer sonder dat iemand dit vir Bet-el kan blus nie.”
AMOS 5:1-6 AFR53