TEKENS VAN DIE TYE
- 5 minutes read - 955 wordsLukas 21, Matthéüs 24
Lukas is die derde boek in die Nuwe Testament en 3 is die nommer van opstanding en dui daarop dat iets volledig/voltooid is. Jesus het op die derde dag opgestaan en God en die mens bestaan elk uit 3 dele. Die nommer 21 verwys na volwassenheid. Dit is dus heel gepas dat hierdie hoofstuk praat oor die eindtyd.
Die hoofstuk begin waar Jesus sien hoe mense hul offerhandes na die tempel bring. Ryk mense het groot bydraes gemaak, terwyl ‘n arm weduwee slegs 2 geldstukkies gegee het. Jesus het gesê die weduwee het alles wat sy gehad het gegee en daarom was haar bydrae groter as die van die baie ryker mense. Dit geld nie net vir finansiële bydraes nie, ons moet in alle areas van lewens alles vir Jesus gee. Ek weet dit verwys na geld, maar ek voel dat Jesus wou hê ons moet raaksien hoe ‘n lewe lyk wat dood is vir onsself en voluit leef vir Jesus. Hierdie arm weduwee se storie is verewig aangeteken in die Bybel, die gewildste boek op aarde.
Van Jesus se dissipels het die tempel gebou bewonder. Jesus het gesê dat daar ‘n tyd sal kom waar die gebou afgebreek sou word. Ons weet dat in ongeveer 70 n.C. is die tempel vernietig en slegs die westelike muur (wailing wall) het oorgebly. Vandag staan daar ‘n moskee op die berg. Jesus het gesê daar sal baie tekens wees voor die eindtyd aanbreek. Wanneer ‘n vyeboom bot weet hulle die winter is verby en die somer is naby. Die bloeisels is dus ‘n teken. Jesus noem die volgende tekens:
⁃ Daar sal vals profete kom. Daar sal selfs mense kom wat hul voordoen as Jesus en ons moet seker maak dat ons nie mislei word nie. Hierdie vals mense sal wonderwerke doen wat mense kan mislei as hulle nie vol van die Heilige Gees is nie.
⁃ Oorloë en opstande sal plaasvind voor die eindtyd kom.
⁃ Aardbewings, hongersnode en pessiektes sal kom. Ons hoor van meer aardbewegings as tevore, maar dit kan wees omdat aardbewings meer gemonitor word as tevore. Wikipedia het ‘n baie lang lys van lande wat hongersnood en plae ervaar het vanaf die Bybel se tyd tot vandag. Dit is meer algemeen as wat ek gedink het.
⁃ Groot tekens in die Hemel. Die son, maan en sterre sal tekens toon. ‘n Sonsverduistering sal maak dat die maan sy glans verloor en sterre sal val. Tot dusver het ons ‘n paar bloedmane gesien en ‘n Bethlehem ster.
⁃ Christene sal vervolg word en in die tronk beland. Ek glo elke generasie sedert Jesus se opstanding het in ‘n mate bogenoemde tekens ervaar. Baie van die apostels is vervolg, in die tronk gegooi en doodgemaak. Ons sien vandag steeds die vervolging van Christene in sekere lande. China se Christene word al jare lank vervolg en die Taliban vervolg die Christene in Afghanistan. Ons sien ook in sogenaamde Christen lande hoe Christene vervolg word omdat hulle God se Woord volg. Menseregte wil ons regte as Christene wegneem. Sekere dele van die Bybel word bestempel as haatspraak. Sekere Bybels word uitgegee deur wêreldse maatskappye wat die woorde in die Bybel verdraai en selfs sekere verse uithaal. Wanneer iets nie by die wêreld se agenda pas nie sê hulle dit is verkeerd vertaal. Dit gebeur selfs in sekere kerke. Christene sal gehaat word omdat hulle Jesus ken.
⁃ ‘n Verdere teken sal wees dat Jerusalem “deur leërs omsingeld” sal wees. Elke paar jaar is daar oorlog tussen Israel en die lande rondom hulle. Daar sal egter ‘n tyd kom wat almal uit Jerusalem sal vlug en Jerusalem “vertrap” sal wees. Daar is mense wat Israel haat uit onkunde en miskien ook omdat satan haat vir Israel in mense se harte plaas.
⁃ Mense sal vol vrees lewe. Daar is ‘n groep mense wat uit vrees uit Suid-Afrika getrek het. Ons sien ook nou hoe mense in vrees leef tydens die pandemie. Psalms 91 belowe vir God se kinders beskerming.
⁃ Soos ongeregtigheid toeneem, sal liefde afneem.
Die Bybel sê ons moet op ons hoede wees dat ons nie eet, drink, partyjies hou en deur die sorge van die lewe fokus verloor nie. Dit kan maak dat die koms van Jesus ons onverwags betrap.
“Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”
LUKAS 21:36 AFR53
Daar is ‘n sekere misterie rondom die eindtyd wat baie mense fassineer. Ek dink dit is hoofsaaklik omdat mense nie verstaan wat die Bybel sê nie. Dit gaan ‘n wonderlike tyd wees vir alle Christene, want ons gaan saam met Jesus leef. Geen hartseer, trane, siekte, pyn of dood sal neby aan ons kom nie (Openbaring 21). Dit gaan ‘n vreeslike traumatiese tyd wees vir mense wat nie reg is met God nie. Niemand weet wanneer Jesus gaan terugkeer nie. Wees dus elke dag gereed vir Sy terugkeer. Bid vir vrede in Jerusalem en bid vir almal wat ongered is.
Lukas 21 eindig waar dit vertel dat Jesus gedurende die dag die mense in die tempel geleer het en gedurende die nag het Jesus na die Olyfberg gegaan. Jesus het homself afgesonder in God se teenwoordigheid sodat Hy uit intimiteit met Sy Vader ander mense kon leer. Ons behoort dus almal tyd by God te spandeer en ons lewensdoel uit te leef. Wanneer jy dit doen sal jy gereed wees vir die eindtyd ongeag wanneer dit gebeur.
“En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”
MATTHÉÜS 24:14 AFR53