Tradisies maak die Woord kragteloos
- 3 minutes read - 461 words“So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering (tradisies) wat julle bewaar het; en dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie.”
MARKUS 7:13 AFR53
Nadat jy tot bekering gekom het raak jy skielik bewus van die verwagtinge van mede Christene. Jy moet “reg” aantrek, na die “regte” plekke gaan en die “regte” dinge doen. Ons lees in Markus 2 dat die Fariseërs verwag het dat Jesus se volgelinge sekere dae moes vas. Hulle mag ook nie kos gepluk het om te eet op die Sabbat nie. Die mense was ontevrede omdat Jesus mense genees het op die Sabbat - Markus 3. In Markus 7 kla die Fariseërs en skrifgeleerdes omdat Jesus en Sy dissipels nie hulle hande reg was voordat hulle eet nie. Jesus verduidelik dan dat baie van hierdie verwagtinge slegs tradisies is wat van geslag tot geslag oorgedra word.
Jy het waarskynlik jou eie lys van verwagtinge wat jyself of ander op jou plaas. Jesus het gekom sodat ons vry kan wees. Ons hoef nie swaar te dra aan ‘n lys van wette, verpligtinge of skuldgevoelens nie. Jou hartskondisie is van belang vir Jesus. Hoeveel kerkdienste of vergadeings jy bywoon is nie van belang nie. Wat jy eet of hoeveel geld jy vir liefdadigheid gee is nie van belang nie. Wat uit jou kom is van belang. As jou hart reg is gee jy met vreugde. As jou hart reg is, is jou gedagtes, jou aksies en jou houding reg.
“Want soos hy in sy siel bereken, so is hy; eet en drink, sê hy vir jou, maar sy hart is nie met jou nie.”
SPREUKE 23:7 AFR53
Proverbs 23:7a AMPC
For as he thinks in his heart, so is he.
“want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”
MATTHÉÜS 6:21 AFR53
“Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het 'n blymoedige gewer lief.”
II KORINTHIËRS 9:7 AFR53
“En Hy sê vir hulle: Is julle ook so sonder verstand? Begryp julle nie dat alles wat van buite af in die mens ingaan, hom nie onrein kan maak nie, omdat dit nie ingaan in sy hart nie, maar in die maag, en dit gaan in die heimlikheid uit en maak al die voedsel rein? Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.”
MARKUS 7:18-19, 21-23 AFR53
God se lewende Woord en Gees lei ons. Maak seker dat dit wat jy doen en glo uit die Woord kom. Die Bybel is jou “manual” en nie tradisies of mense se verwagtinge nie.