TWEE GETUIES
Janine Forsyth
- 3 minutes read - 625 words“Een getuie mag nie teen iemand optree insake enige misdaad of enige sonde, by enige misstap wat hy begaan nie; op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal 'n saak van krag wees.”
DEUTERONÓMIUM 19:15 AFR53
Die wet het vereis dat 2 (of 3) getuies nodig was om iemand aan te kla (Deuteronómium 19:14-21) of vir besigheids transaksies (Jeremia 32).
“EN as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin; maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan.”
MATTHÉÜS 18:15-16 AFR53
Sagaría het ‘n visioen gesien van ‘n goue kandelaar, ‘n oliekan, 7 pype en 2 olyfbome (Sagaría 4). Die olyfbome was die 2 gesalfdes of getuies, en die olie en pype was God se teenwoordigheid en Sy 7 geeste (Jesaja 11:1-3). God se teenwoordigheid en Heilige Gees het vir Serubabbél gehelp om die tweede tempel te bou en te voltooi.
Na 6 dae het Jesus, Petrus, Jakobus en Johannes op ‘n hoë berg gegaan. In die teenwoordigheid van 2 getuies (Moses en Elía) is Jesus verheerlik (Matthéüs 17:1-13). Daar het ‘n stem uit die Hemel gekom en bevestig dat Jesus die Seun van God was.
Twee getuies sal eendag weer verskyn (Openbaring 11:3-15). Hulle sal 3,5 jaar lank profeteer en daar sal geen reën val nie. Vuur sal hulle vyande verslind. Wanneer hulle getuienis voltooi is sal die dier hul doodmaak. Die mense sal bly wees daaroor en hulle lyke sal vir 3,5 dae op die straat lê. God se Gees sal hulle lewendig maak en hulle sal opgaan na die Hemel. Daarna sal die sewende basuin blaas en Jesus sal as Koning heers tot in die ewigheid.
Twee getuies moet teenwoordig wees wanneer ‘n paartjie trou. Sal ons 2 getuies nodig hê wanneer ons voor God staan? Ek glo Jesus en Heilige Gees sal vir ons getuig voor die Vader.
“Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? Dit is Hy wat deur water en bloed gekom het, Jesus die Christus; nie deur die water alleen nie, maar deur die water en die bloed; en dit is die Gees wat getuig, want die Gees is die waarheid. Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig. As ons die getuienis van die mense aanneem — die getuienis van God is groter, omdat dit die getuienis is van God wat Hy aangaande sy Seun getuig het. Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie. En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.”
I JOHANNES 5:4-13 AFR53