UITKYKPUNT
- 6 minutes read - 1230 wordsIn die Ou Testament was daar wagters (watchman) wat op ’n hoë uitkykpunt/muur gestaan het om te sien wie die stad nader. Hulle kon dus die koning of inwoners waarsku wanneer daar gevaar was of mense van belang oppad was daarheen. In 2 Samuel 18 lees ons hoe die wagter op die muur aan Koning Dawid meedeel wat hy sien.
“En terwyl Dawid tussen die twee poortingange sit, het die wag op die dak van die poort op die muur geklim; en toe hy sy oë opslaan, sien hy meteens ’n man alleen hardloop.”
II SAMUEL 18:24 AFR53
Die wagter het 2 manne sien kom. Die eerste boodskapper het die goeie nuus gebring dat hulle die oorlog gewen het en die tweede boodskapper het die hartseer nuus gebring dat Absalom, Dawid se seun, gesterf het. Dawid het homself dadelik afgesonder nadat hy die nuus ontvang het.
“Toe het die koning baie ontroerd geword en opgeklim na die bovertrek van die poort en geween; en hy het rondgeloop en só gesê: My seun Absalom, my seun, my seun Absalom! Ag, as ek self maar in jou plek gesterf het! Absalom, my seun, my seun!”
II SAMUEL 18:33 AFR53
2 Konings 9:17-20 : Joram, die seun van Agab en Isébel, was koning van Israel en Ahásia, die koning van Juda, het hom besoek. Die wag op die toring het die konings gewaarsku dat hy Jehu en ’n groep mense sien aankom. Die konings was onbewus van Jehu se missie en al twee konings en Isébel het daardie dag gesterf. Al kon die wagters mense sien nader kom, het hul steeds nie geweet wat se boodskap hul sou ontvang nie. Koning Joram en Ahásia het Jehu gaan ontmoet en toe gesterf.
"’n BEDEVAARTSLIED. Van Salomo. As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter."
PSALMS 127:1 AFR53
“Ek wag op die Here; my siel wag, en ek hoop op sy woord. My siel wag op die Here meer as wagters op die môre, wagters op die môre. Wag op die Here, o Israel! want by die Here is die goedertierenheid, en by Hom is daar veel verlossing;”
PSALMS 130:5-7 AFR53
“Want so het die Here vir my gesê: Gaan heen, sit ’n wag uit; laat hom te kenne gee wat hy sien; En hy het geroep soos ’n leeu. Op die wagtoring, Here, staan ek gedurig by dag, en op my wagpos stel ek my al die nagte.”
JESAJA 21:6, 8 AFR53
“o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die Here herinner aan sy beloftes — moenie rus nie”
JESAJA 62:6 AFR53
Soms is ’n profeet aangestel as wagter oor Israel. Eségiël is aangestel as wagter oor Israel en sy doel was om waarskuwings van God met die mense te deel.
“Mensekind, Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel; en as jy ’n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku.”
ESÉGIËL 3:17 AFR53
Dit word weer herhaal in Eségiël 33:7. Eségiël 33:1-20 verduidelik dat ’n wagter altyd ’n waarskuwing moet gee wanneer God dit vereis. Indien hy nie die waarskuwing gee nie, en mense sterf, is daardie mense se bloed op die hande van die wagter. Eségiël het dus nie op mure gestaan en dophou wat gebeur nie. Sy rol as wagter was om by God te hoor wat Hy aan die mense wou meedeel.
Soms wou die wagters nie luister nie en soms was hul so verblind deur sonde dat hulle nie kon sien of hoor nie.
“Hulle wagte is almal blind, hulle merk niks nie; hulle is almal stom honde wat nie kan blaf nie; wat dromerig lê, lief is om te sluimer.”
JESAJA 56:10 AFR53
“Ek het ook wagte oor julle gestel en gesê: Luister na die geluid van die basuin. Maar hulle het geantwoord: Ons wil nie luister nie.”
JEREMIA 6:17 AFR53
“Die beste van hulle is soos ’n doringstruik, die mees opregte erger as ’n doringheining. Die dag van jou wagte, jou besoeking, kom; nou sal hulle verwarring daar wees.”
MIGA 7:4 AFR53
In die Ou Testament was die wagters aangestel om op die mure wag te hou en seker te maak geen gevaar kom ’n stad binne nie. Later was daar geestelike wagters soos profete om mense te waarsku. In die Nuwe Testament nadat Jesus gesterf, opgestaan en opgevaar het na die Hemel, het ALLE MENSE toegang verkry tot God deur die uitstorting van die Heilige Gees. Die Heilige Gees waarsku ons vandag steeds. Soms weet jy net iets, ander kere voel jy dalk ongemaklik oor iets sonder dat jy die rede weet, soms hoor jy direk van God of jy kry ’n droom of visioen wat jou waarsku. Dis ook moontlik dat God ’n profeet of ander mense kan gebruik om vir jou ’n boodskap of waarskuwing te bring.
Ons het vandag steeds ’n uitkykpunt in die gees. Daar is sekere dinge wat jy kan doen om jouself op hierdie uitkykpunt te plaas. Hoe meer ek lees en tyd by God spandeer, hoe makliker hoor ek van Hom. Ek moet ook werk daarvan maak om myself skoon te hou van die wêreld. Ek probeer om nie veel meer as net die hoofsopskrifte van die nuus te lees nie. Ek moet vinnig vergewe en nie negatiewe gedagtes hê of negatiewe dinge sê nie. As jou kop vol negatiewe dinge is, sal dit by jou mond uitkom. Ek moet my gereeld afsonder en tyd vir God maak. Ek moet ’n dankbare hart hê. Ek het gisteroggend wakker geword met die woorde “vantage point” en het dadelik begin moeite doen om te hoor wat God vir my wil sê. Ek het ’n paar jaar gelede vir God gevra om my te help om my drome te onthou en sedertien kan ek elke oggend my drome neerskryf. Daarna doen ek moeite om uit te vind wat God vir my wou sê. Soms praat God direk met my, maar meestal moet ek navorsing doen, bid en lees totdat ek verstaan wat Hy vir my wil sê. Net soos die wagter op die muur in die Ou Testament alleen en afgesonder gevoel het, moet jy jou afsonder met God. Soms is dit vroeg in die oggend of laat in die aand. Soms wou jy nog slaap. Soms voel dit of jy die enigste persoon is wat dit doen. Dit vereis baie selfdissipline, maar die beloning is die moeite werd en dit raak makliker.
“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”
ROMEINE 12:2 AFR53
“Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.”
JOHANNES 16:13 AFR53
“Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie.”
JEREMIA 33:3 AFR53
“Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge; Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom.”
DANIËL 2:22 AFR53