VAN WATTER GEES IS ONS?
- 2 minutes read - 225 wordsLukas 9:51-56
Jesus en Sy dissipels was oppad na Jerusalem toe hul deur ’n Samaritaanse dorp trek. Die Samaritane wou nie hê hul moes daar stop nie omdat Jesus oppad was na Jerusalem. Die Samaritane het op ’n berg in Samaria aanbid terwyl die Jode God in Jerusalem aanbid het (Johannes 4:1-30). Die Jode en Samaritane het nie eers met mekaar gepraat nie. Die Samaritane het ook geglo in die koms van die Messias, maar omdat Hy oppad was na Jerusalem wou hulle niks met Hom te doen hê nie. Jesus was oppad om Sy skeppingsplan te voltooi en het Hom nie laat afsit deur hul gedrag nie. Die dissipels wou egter vuur afroep uit die Hemel om die Samaritane te laat sterf. Jesus het die dissipels duidelik laat verstaan dat dit nie God se Gees is wat deur hul werk nie. God is liefde en ons kan nie wraak neem of slegte gevoelens teenoor mense hê omdat hulle ander dinge glo as ons nie. Selfs al is hulle verkeerd. Van watter gees is jy?
“Maar Hy draai Hom om en bestraf hulle en sê: Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie; want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red. En hulle het na ’n ander dorp vertrek.”
LUKAS 9:55-56 AFR53