VAN GIDEON TOT JERUBBAÄL
Janine Forsyth
- 3 minutes read - 489 wordsGideon: STRONG’S H1439 - Vegter
Jeubbaäl: STRONG’S H3378 - Stry met Baäl
Ons ken Gideon as die seun van Joas wat koring gedors het in die druiwe parskuip omdat hy bang was. Die Engel (moontlik Jesus) het daar aan hom verskyn, hom ‘n dapper held genoem en hom opdrag gegee om die Midianiete te verslaan. Die Engel het ook vir Gideon opdrag gegee om die altaar van Baäl en die heilige boomstam te vernietig. Hy het die altaar en boomstam in die nag vernietig omdat hy bang was vir sy familie en die manne van die stad. Gideon was bang, maar steeds gehoorsaam. God was met Gideon en daarom was hy suksesvol. Joas het hierna vir Gideon ‘n nuwe naam gegee - Jerubbaäl. Die Bybel verwys 14 keer na hierdie nuwe naam - Rigters 6-9, 1 Samuel 12:11.
God het elkeen van ons geskep as ‘n vegter, ‘n dapper held en om met die vyand te stry. Eendag sal jy ook ‘n nuwe naam kry as jy gehoorsaam is ten spyte van jou vrees.
“Toe het die Engel van die Here gekom en gaan sit onder die terpentynboom wat by Ofra staan, wat aan Joas, die Abiësriet, behoort het, terwyl sy seun Gídeon juis koring uitslaan in die parskuip om dit te beveilig teen die Midianiete. En die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: Die Here is met jou, dapper held!”
RIGTERS 6:11-12 AFR53
“Toe sê die Here vir hom: Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan.”
RIGTERS 6:16 AFR53
“En in dieselfde nag het die Here vir hom gesê: Neem die bul van jou vader, naamlik die tweede bul van sewe jaar, en breek die altaar van Baäl af wat aan jou vader behoort, en kap die heilige boomstam af wat daar langsaan staan. En bou vir die Here jou God 'n altaar op die top van hierdie vesting deur opstapeling, en neem die tweede bul en bring dit as 'n brandoffer met die hout van die heilige boomstam wat jy moet afkap.”
RIGTERS 6:25-26 AFR53
“Toe het Gídeon tien man van sy dienaars geneem en gedoen soos die Here aan hom gesê het; maar omdat hy te bang was vir sy familie en vir die manne van die stad, om dit oordag te doen, het hy dit in die nag gedoen.”
RIGTERS 6:27 AFR53
“Daarom het hy hom op dié dag Jerúbbaäl genoem en gesê: Laat Baäl teen hom veg, omdat hy sy altaar omgegooi het.”
RIGTERS 6:32 AFR53
“Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna, en Ek sal hom gee 'n wit keursteen, en op dié steen 'n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang.”
OPENBARING 2:17 AFR53