VERKEERDE BEELD VAN DIE VADER
- 3 minutes read - 482 words#kleinjakkalse
“Vang julle vir ons die jakkalse, die klein jakkalse wat die wingerde verniel, want ons wingerde staan in die bloei.”
HOOGLIED 2:15 AFR53
So baie mense ken die Vader glad nie. Dikwels word God aan kinders uitgebeeld as ‘n wrede God en nie as ‘n liefdevolle Vader nie. Soms is dit mense se ondervinding met hulle ouers of ander Christene wat hulle ‘n verkeerde beeld van die Vader gee. Wanneer ‘n mens die Ou Testament lees kan jy ‘n liefdevolle Vader raaksien. Lees dit en vra die Heilige Gees om God se liefde aan jou te openbaar. Hy vergewe Sy kinders oor en oor en wil net die beste vir die Israeliete hê. Deuteronómium 28 en Psalms 91 wys ‘n liefdevolle Vaderhart. Die volgende vers het my gehelp om die Vader se liefde te begin ervaar.
“Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee.”
JEREMIA 29:11 AFR53
God, die Vader, het goeie planne vir elke mens wat Hy geskape het. Hy het jou so lief dat Hy vir jou vryheid oor jou keuses gegee het. Dis nie ‘n manipulerende liefde nie. Daar is vryheid in die Vader se liefde. ‘n Goeie ouer beskerm ‘n kind van gevaar, maar jy beheer nie jou kind nie. Die Israeliete kon God volg en ‘n goeie uitkoms sien. Of hulle kon hulle eie planne maak en misluk. Ons het dieselfde keuses vandag steeds.
Die gelykenis van die verlore seun in Lukas 15 wys vir ons die Vader se hart. Hy wag met oop arms om elkeen van Sy kinders te omhels en dan hou Hy ‘n fees. Baie mense kan raaksien dat Jesus vol liefde was, maar sukkel steeds met die Vader. Jesus het gekom om vir ons die Vader te wys.
“Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte,”
HEBREËRS 1:3 AFR53
“Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self.”
JOHANNES 14:9-11 AFR53
“Ek en die Vader is een.”
JOHANNES 10:30 AFR53
Moenie dat hierdie “klein jakkals” jou weghou van God se beste vir jou lewe nie.