VERKEERD GELEER
- 4 minutes read - 771 wordsTotdat jy self God begin ervaar in jou lewe sal jy waarskynlik glo dat die meeste dinge in die Bybel net simbolies is. Solank as wat jy dit glo mis jy wonderlike ervarings met God. Soms mors die leuens van die geleerde teoretiese Christene steeds met my. Ek het gedink deur stiltetyd te hou gaan ek na die berg. Ja, die fisiese tempel was op’n berg, maar dit is baie meer as dit. God wil hê ons moet hemelse en bo-natuurlike ervarings met Hom hê terwyl Hy ons daardeur leer.
“En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem.”
JESAJA 2:3 AFR 53
Moses het ‘n intieme verhouding met God gebou terwyl die ander God gesien het en toe geëet het. Wat doen jy wanneer God opdaag?
“Daarop het Moses opgeklim met Aäron, Nadab en Abíhu en sewentig van die oudstes van Israel. En hulle het die God van Israel gesien, en onder sy voete net soos 'n vloerwerk van saffierstene en so helder soos die hemel self. Maar Hy het sy hand nie na die uitgesoektes van die kinders van Israel uitgestrek nie, en hulle het God aanskou; daarop het hulle geëet en gedrink. Toe sê die Here vir Moses: Klim op die berg na My toe en vertoef daar, dat Ek jou die kliptafels kan gee en die wet en gebooie wat Ek geskryf het om hulle te onderrig.”
EXODUS 24:9-12 AFR53 (Lees ook Exodus 33-34)
Dawid het ervarings met God gehad.
“Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar!”
PSALMS 139:8 AFR53
Jesaja het God in die Hemel gesien in Jesaja 6. Jesaja het gekyk, geluister en sy roeping ontvang. Jeremia en Eségiël moes ook luister en kyk om te sien in Jeremia 1 en Eségiël 1.
Paulus was in die Derde Hemel waar hy dinge ervaar het waaroor hy nie kon praat nie.
“Ek weet van 'n man in Christus, veertien jaar gelede — of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit — dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel. En ek weet van so 'n man — of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit — dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat 'n mens nie mag uitspreek nie.”
II KORINTHIËRS 12:2-4 AFR53
In Openbaring 4 het Johannes gekyk en ‘n oop deur (“portal”) in die Hemel gesien. Daarna moes hy luister en gehoorsaam wees.
Ek glo Jesus het opgegaan na die Vader wanneer Hy Homself afgesonder het met die Vader. In Johannes 20 na Jesus se opstanding sê Jesus vir Maria dat sy Hom nie moet aanraak nie, want Hy moet eers na Sy Vader gaan. Agt dae later raak Thomas aan Sy wonde. Ek glo Jesus het intussen na Sy Vader gegaan en daarom kon Thomas Hom later aanraak.
Jesus het ook deur mense en mure beweeg - Lukas 4:30, Johannes 8:59, 20:19.
Elía, Henog en Jesus het bo-natuurlik opgegaan na die Hemel. Filippus het bo-natuurlik beweeg van Jerusalem na Asdod - Handelinge 8:26-40. Engele het Petrus help ontsnap uit die tronk - Handelinge 12. Stéfanus het die oop Hemel gesien met Jesus wat aan die regterkant van God staan - Handelinge 7:56. Om bo-natuurlike ervarings met God te hê was ‘n algemene verskyning in die Bybel. Jesus het die Fariseërs bestraf omdat hulle geestelik blind en doof was. Hulle het kennis van God se Woord gehad, maar geen ervaring of verhouding met die God van die Woord nie.
“Het julle oë en sien julle nie? En het julle ore en hoor julle nie?”
MARKUS 8:18 AFR53
Ek glo ons moet soos Jeremia kyk en soos Samuel luister.
“Verder het die woord van die Here tot my gekom en gesê: Wat sien jy, Jeremia? En ek antwoord: Ek sien 'n amandeltak. Toe sê die Here vir my: Jy het goed gesien, want Ek is wakker oor my woord om dit te volbring.”
JEREMIA 1:11-12 AFR53
“Toe het die Here gekom en gaan staan en geroep soos die vorige kere: Samuel, Samuel! En Samuel het geantwoord: Spreek, want u kneg hoor.”
I SAMUEL 3:10 AFR53
Ons moenie net weet van ons Skepper nie; ons moet ons Skepper leer ken.