VERVOLGING
- 2 minutes read - 389 wordsHet dit al vir jou gevoel dat hoe nader jy aan God leef hoe meer raak die vervolging? Hoe meer jy probeer regdoen, hoe meer loop dinge skeef? Deuteronómium 28 wys vir ons hoe ons lewe kan lyk as ons ‘n verbond met God het. Dawid het ‘n verbond met God gehad, maar is gedurig vervolg deur Koning Saul (Psalms 57) sy eie mense het teen hom gedraai en die Filistyne het hom gevang (1 Samuel 21, Psalms 34, 56). In die Psalms vind ons Dawid se reaksie tot elke vervolging. Dawid vertel van sy swaarkry, maar hy vertel ook hoe God uitkoms gebring het. Om in verbond met God te leef beteken nie probleme verdwyn nie. Om in verbond met God te leef beteken dat jy die probleme saam met God aanpak. Soms het Dawid probleme ondervind a.g.v. sy sonde (2 Samuel 11-12, 24, Psalms 51) maar meestal was dit net die vyand wat hom aangeval het.
“En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.”
II TIMÓTHEÜS 3:12 AFR53
Jesus het sy volgelinge gewaarsku dat hulle soos lammers tussen wolwe uitgestuur word (Lukas 10:3, Matthéüs 10:16). Jesus was sonder sonde en is gedurig vervolg. Jakobus sê dat moeilike dinge in die lewe ons help om vlekkeloos en sondeloos te word (Jakobus 1:2-4). Wanneer jy God heelhartig volg irriteer God se teenwoordigheid die vyand. Soms is dit klein goedjies waar satan net jou dag wil bederf of jou vrede wil steel. Gisteroggend na Bybelstudie het ons afgegaan strand toe. Ons het heerlik gewem op ons lyfpkanke toe ‘n branderplank my onverwags teen die kop tref; direk langs my oog. Gelukkig was dit nie ernstig nie. Ek moes kies dat die skrik, sny, bloed en bloukol nie my dag gaan bederf nie. Ons leef in verbond met God en daarom weet ons dat Hy altyd met ons is. Ons kan God se vrede ervaar in alle omstandighede (Johannes 14:27). Wanneer ons in die klein goedjies rustig by God bly, raak dit makliker om die groot goed met God aan te pak.
“As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.”
JESAJA 43:2 AFR53