VERWERPING, VERGEWE EN VERGEET
- 3 minutes read - 586 wordsDie 3 V’s gaan dikwels saam. Wanneer jy verwerp word moet jy kies om te vergewe en te vergeet. Wanneer jy verwerp voel moet jy jouself herinner dat Jesus verwerp is deur Sy eie mense, die Jode. Dit was nie die Romeine wat Jesus wou kruisig nie. Dit was die mense van die kerk. Selfs Sy dissipels het aan die slaap geraak. Petrus het Jesus 3 keer verloën. Jou situasie is nie erger as Jesus s’n nie. Jesus was sondeloos en is gekruisig vir die hele wêreld se sonde. Dit is nie regverdig nie.
“Hy was verag en deur die mense verlaat, ’n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ’n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.”
JESAJA 53:3 AFR53
“Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!”
PSALMS 139:23-24 AFR53
“Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.”
KOLOSSENSE 3:2-3 AFR53
Vergeef vinnig en moenie weer daaraan dink nie.
“Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg;”
MATTHÉÜS 5:44 AFR53
Verwerping gaan jou oral volg totdat jy besluit dit gaan jou nie langer beïnvloed nie. Ek moet myself dwing om te vergewe en te vergeet. Soms moet ek dit oor en oor doen. Ons moet sterf sodat Jesus deur ons kan leef.
“Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.”
GALÁSIËRS 2:20 AFR53
Dit is wat Stéfanus gedoen het (Handelinge 7). Soos Jesus kon hy sê Vader vergeef hul, want hul weet nie wat hul doen nie. Dikwels doen mense en selfs Christene wrede en aaklige goed en dan moet ek sê Vader vergewe hul, want hul weet nie wat hul doen nie. Selfs wanneer ek dink hulle weet presies wat hulle doen, moet ek kies om te vergewe. Dikwels moet ek vra dat die Heilige Gees oorneem, want ek kan nie die situasie hanteer nie. Wanneer jy dood is vir die wêreld voel jy nie die pyn wat die wêreld uitdeel nie. Daarom moet ons deur die Gees lewe.
“Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.”
MATTHÉÜS 6:14-15 AFR53“Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie; julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.”
ROMEINE 8:5-9 AFR53