VISIOEN VAN MARY POPPINS
- 2 minutes read - 258 words22 Maart 2022
Ek het ‘n visioen gehad van ‘n klein vroutjie met ‘n hoedjie op. Sy het ‘n swart rok en ‘n baadjie of jas aangehad. Ek het in my gees gehoor dat dit Mary Poppins is. Ek het nooit die film gesien nie en net die naam Mary Poppins is vir my bekend. Dis ‘n film wat in 1964 baie gewild was en sommige mense beskou dit as een van die beste 100 films wat ooit gemaak is. Mary Poppins is deur die Oostewind ingewaai na die Banks familie in Cherry Tree Laan 17, Londen. Sy het na hulle kinders omgesien en deur toorkuns vir hulle lewenslesse geleer.
Jesus gaan eendag terugkeer uit die Ooste en wind is ‘n simbool vir die Heilige Gees. Deuteronómium 18:10 maak dit baie duidelik dat ons niks met toorkuns en goëlery te doen moet hê nie. Jy mag dalk dink dis net onskuldige pret, maar dit is hoe satan vatplek kry in baie kinders se lewens. Moenie hulle gewoond maak om Bybelse waarhede te verdraai nie. Ons sit met ‘n samelewing wat nie weet wat die Bybel sê nie en almal het ‘n opinie. Films en televisie is baie dikwels die stem van die wêreld (satan) in jou kind se lewe. Dis tyd dat ons terugkeer na die Bybel. Bid vir ons kinders dat hulle nie verblind of mislei word nie.
“Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.”
JESAJA 5:20 AFR53