VOER JOU GEES
- 2 minutes read - 297 wordsMeeste van ons vergeet nie om ons vlees te voer nie. Baie Christene vergeet egter dat hul gees netso gereeld soos hul vlees, gevoer moet word. As jy lees en luister na God se Woord, of mense se getuienis, voer jy jou gees. As jy dink aan God, bid of Hom loof en prys voer jy jou gees. Wanneer jy in stilte by God sit, voer jy ook jou gees.
Matthéüs 4:4 en Lukas 4:4 sê dat ons nie net op brood (fisiese kos) kan leef nie, maar ons benodig ook God se Woord. Let op dat daar ‘n dubbel 4 in albei tekste is. Die nommer 44 verwys na God se uitverkorenes.
• 44 = uitverkose, afgesonder vir Jesus, hou jou skoon van wêreld se slegte invloed - Eségiël 44.
• Ps 4:4 - God het vir Hom ‘n “gunsgenoot afgesonder.”
• God se uitverkorenes - Jes 44.
• “En rondom die troon was daar vier-en-twintig trone, en op die trone het ek die vier-en-twintig ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad.” OPENBARING 4:4 AFR53
“Want baie is geroep, maar min uitverkies.”
MATTHÉÜS 22:14 AFR53
Ek glo God het elke mens op aarde geroep na Sy koninkryk. Ongelukkig wil almal nie God volg nie. Die wat kies om God te volg en hulself geestelik voer word dus uitverkorenes. Ons kan nie vir die res van ons lewens van ander afhanklik bly om ons met bottels melk te voer nie (1 Kor 3). Maak seker dat jou gees elke dag ‘n gesonde gebalanseerde maaltyd geniet. Dis jou verantwoordelikheid.
“Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.”
HEBREËRS 5:14 AFR53