VREDE
- 2 minutes read - 302 wordsSoms wanneer ek die tyd sien assosieer ek dit met sekere Bybelverse. Gistermiddag het 14h14 my oog gevang.
“Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees.”
EXODUS 14:14 AFR53
“The LORD shall fight for you, and ye shall hold your peace.”
Exodus 14:14 KJV
Die Egiptenare was besig om die Israeliete te agtervolg en die Israeliete was vasgekeer by die Rooi See. Die vyand wou die Israeliete se nuutgevonde vryheid steel en hulle weer in slawerny laat leef. God se instruksie aan Moses was dat hulle moet stil wees en dat Hy hulle verlossing sou bewerkstellig. Hierdie stilwees verwys na ‘n rustigheid en vrede wat ons selfs in moeilike en chaotiese tye kan ervaar.
“Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.”
JOHANNES 14:27 AFR53
My droom was altyd om my kinders op ‘n vakansie na Europa te neem. God het daardie droom in Desember 2016 laat gebeur. Aan die een kant wou ek graag sneeu op die grond sien en aan die kant het ek geweet te veel sneeu kon dalk ons planne, om 7 lande in 10 dae te sien, omkrap. Ons het die sneeu op van die hoë berge geniet, maar daar was niks sneeu op die grond nie. Ek moes maar vrede maak met die situasie. Die tweede laaste dag toe ons terugry van Frankryk na Switserland het God ons verras met sneeu. My droom om tussen die dennebome vol sneeu te staan het waar geword. Daardie oggend het ek net weer besef God werk wanneer daar vrede in ons harte is. Ons liefdevolle Skepper wil jou in moeilike tye help, maar Hy wil ook jou drome ‘n werklikheid maak. Vind jou vrede en rus in Hom.