WANNEER IS EENDAG?
- 3 minutes read - 525 words#kleinjakkalse
Sal jy eers eendag in die Hemel gelukkig wees? Is jy ‘n swak, hulpelose persoon, wat altyd wag dat God ingryp en dit gebeur nooit nie? Sit jy soos die verlore seun in die modder tussen die varke en kry jy jouself jammer? Die verlore seun moes raaksien (openbaring kry) dat sy situasie sal verander wanneer hy terugkeer na die Vader. Terug by die Vader moes sy mentaliteit verander. Die Vader ontvang jou nie as Sy slaaf nie, maar as ‘n koningskind. ‘n Fees is voorberei en die verlore seun het pragtige klere en ‘n ring ontvang. Dit simboliseer die huweliksfees wanneer die bruid (Christene) haar bruidegom (Jesus) ontmoet. Jesus het betaal sodat elkeen van ons ‘n koningskind kan word.
Vir baie lank het die “klein jakkals”, dat ons eers eendag in die Hemel ‘n wonderlike lewe sal hê, Christene mislei. Christene het geglo hulle moet “gekruisig” word om Jesus te volg. Terwyl ons saam met Jesus gekruisig is, m.a.w. dit het reeds gebeur.
“Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.”
GALÁSIËRS 2:20 AFR53
“AS julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.”
KOLOSSENSE 3:1-3 AFR53
Jesus het klaar betaal vir alles. Vader God het gerus nadat Hy die Aarde en alles daarop geskep het. Mense wil dikwels wag vir nog iets wat God moet doen. God het reeds alles gedoen, nou is dit jou beurt om aksie te neem.
“Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag;”
KOLOSSENSE 2:9-10 AFR53
‘n Openbaring van God se liefde is nodig om Sy volheid te ervaar.
“en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.”
EFÉSIËRS 3:19 AFR53
Waarvoor wag jy? Jy het reeds volheid in Christus ontvang.
“Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”
JOHANNES 10:10 AFR53
Ons weet satan steel, slag en verwoes hier op Aarde en nie in die Hemel nie. Daarom het Jesus gekom om hier op Aarde lewe in oorvloed te bring. Deur Jesus het jy alles ontvang om ‘n wonderlike lewe hier op Aarde te ervaar. Vind Jesus en jou doel hier op Aarde en jy sal gelukkig wees.
“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
MATTHÉÜS 6:33 AFR53
En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.”
II KORINTHIËRS 9:8 AFR53