WANNEER JY BENOUD VOEL
- 4 minutes read - 759 wordsHierdie is vir diegene wat vandag bekommerd is. Of dit jou werk, jou finansies, jou gesondheid of jou familie is, wat jou benoud laat voel - God hoor jou as jy na Hom uitroep. Dawid, die man na God se hart, was dikwels benoud. Dawid het oorwin omdat hy geweet het om na God uit te roep.
“Wees my genadig, Here, want ek is benoud; van verdriet het my oog mat geword, my siel en my liggaam. Want my lewe kwyn weg van kommer en my jare van gesug; my krag struikel deur my ongeregtigheid, en my gebeente teer uit. Vanweë al my teëstanders het ek 'n voorwerp van smaad geword, ja, grootliks vir my bure, en 'n voorwerp van skrik vir my bekendes; die wat my op straat sien, vlug weg van my af. Ek is vergeet uit die hart, soos 'n dooie; ek het geword soos 'n ding wat lê en vergaan. Want ek het die skindertaal van baie gehoor — skrik rondom! — terwyl hulle saam raad hou teen my; hulle is van plan om my lewe te neem. Maar ék vertrou op U, o Here! Ek sê: U is my God. My tye is in u hand; red my uit die hand van my vyande en van my vervolgers. Laat u aangesig skyn oor u kneg, verlos my deur u goedertierenheid. Here, laat my nie beskaamd staan nie, want ek roep U aan; laat die goddelose beskaamd staan, laat hulle verstom in die doderyk! Laat die valse lippe stom word wat in trotsheid en veragting onbeskaamd spreek teen die regverdige. o, Hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil, in teenwoordigheid van die mensekinders!”
PSALMS 31:10-20 AFR53
Dawid het selfs God geprys wanneer hy benoud was.
“En verberg u aangesig nie vir u kneg nie; want ek is benoud. Verhoor my dan gou! Kom nader na my siel, verlos dit; bevry my om my vyande ontwil. Ú ken my smaad en my beskaming en my skande; al my teëstanders is voor U. Die smaad breek my hart, en ek is verswak; ja, ek het gewag op medelyde, maar verniet; en op vertroosters, maar het hulle nie gevind nie. Maar ek is ellendig en in pyn: laat u hulp, o God, my beskerm! Ek wil die Naam van God prys met 'n lied en Hom groot maak met danksegging; As die ootmoediges dit sien, sal hulle bly wees; julle wat na God soek, laat julle hart lewe! Want die Here luister na die behoeftiges en verag sy gevangenes nie. Laat hemel en aarde Hom prys, die see en alles wat daarin roer.”
PSALMS 69:18-21, 30-31, 33-35 AFR53
Selfs Jesus het bang geword in Getsémané, maar Hy het geweet om te bid en voor God neer te val en kon daarom Sy lewe prysgee (Matthéüs 26:36-39). Lees gerus Psalms 91, 121 en Deuteronómium 28 die verse herinner jou dat God jou kan help in alle omstandighede. Wanneer ek met Jesus gesels herinner ek Hom dikwels wat die Woord belowe. Onthou God is nie ‘n mens dat Hy jok nie (Númeri 23:19). Die Woord belowe ‘n goeie lewe vir diegene wat God volg. Al die silwer en goud behoort aan God, m.a.w. God voorsien jou behoeftes (Haggai 2:8).
“Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort nie.”
MALEÁGI 3:10 AFR53
“Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee.”
JEREMIA 29:11 AFR53
“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
ROMEINE 8:28 AFR53
“En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.”
FILIPPENSE 4:19 AFR53
Begin God loof en prys vir jou oorwinning. Praat positief en moenie die hele tyd praat of dink aan jou probleme nie. Dink aan die goedheid van God (Kolossense 3:2, Romeine 12:2). Matthéüs 6 sê die heidinne bekommer hulle oor hulle basiese behoeftes. Ons moet soos die voëls weet dat God vir ons sal voorsien.
“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
MATTHÉÜS 6:33 AFR53