WASEM OP JOU LENSE
- 3 minutes read - 471 wordsSeerkry, teleurstelling en onsekerhede kan jou visie belemmer. Party mense het probleme met mense van ‘n ander geslag of ras en dit beïnvloed hul visie. Ander hou op met hoop, want hulle wil nie teleurstelling ervaar nie. Ek gaan dit verduidelik met ‘n voorbeeld. Gestel ‘n vrou het groot geword op ‘n plaas waar haar ma deur haar pa onderdruk is. Sy was sy slaaf en het alles net aangedra en hy het nooit asseblief of dankie gesê nie. Sy het hard gewerk en was baie alleen op die plaas terwyl hy baie gekuier het en wie weet wat alles aangevang het. Haar ma het net die nodige geld gehad vir die basiese kruideniersware terwyl die pa baie geld geblaas het. Dikwels sal die kind presies dieselfde tipe lewe as die ouer hê. Of sy gaan die hele tyd probeer bewys dat jy glad nie soos haar ma is nie. Vir ‘n vrou gaan dit baie belangrik wees om haar eie geld te verdien, sy gaan ‘n man wil hê wat jou met respek behandel en sy gaan haarself nie alleen op ‘n plaas wil afsloof nie. Dis glad nie slegte planne nie, maar dit is haar eie planne. Omdat sy so baie idees het van wat sy wil hê raak dit moeiliker om raak te sien wat God vir haar wil hê. ‘n Gebrek aan vertroue in haar ouers maak ook dat dit moeiliker om God te vertrou.
Ons slegte ervarings uit die verlede kan ons visie beïnvloed. As jy met rassisme, geweld, armoede, verwaarlosing of haat groot geword het kan dit die res van jou lewe beïnvloed. Dit kan jou lense opwasem en jou hele visie vir die toekoms opmors. Of jy kan dit plaas by die voete van Jesus. Vergewe diegene wat jou seergemaak het en stel die insident vry uit jou siel.
“EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”
ROMEINE 12:1-2 AFR53
Ons moet ons wil kruisig om raak te sien wat Jesus vir ons wil hê. God het beter planne vir ons. Dikwels is dit klein goedjies wat maak dat ons God se beste mis. As jy dink jy het klaar al die antwoorde gaan jy sukkel om God te stem te hoor. Maak seker jy dra nie haat, onsekerhede, teleurstelling, pyn of verwerping saam met jou nie. Dit sal jou visie vir die toekoms belemmer. God het goeie planne vir jou en jy sal dit net kan raaksien wanneer jy ontslae raak van die dinge uit jou verlede.