WAT GAAN JESUS VIND?
- 3 minutes read - 501 wordsWat gaan Jesus vind wanneer Hy terugkeer?
“Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?”
LUKAS 18:8 AFR53
Toe die dissipels nie ’n demoon kon uitdryf nie het Jesus hulle kleingelowiges genoem. Gaan Jesus ’n klomp kleingelowiges aantref?
Soms het Jesus aan mense gesê hulle geloof het hul gered. Baie sou nie gesond geraak het, sonder geloof nie. Geloof is dus nodig om genesing en vryheid te verkry. Hoeveel siekes en demoon gevulde mense is elke dag om ons? Het ons die onderskeidingsvermoë om te kan sien wanneer satan iemand se lewe oorgeneem het?
In Lukas 1 het die engel Gabriël aan 2 mense verskyn. Eers aan Sagaría, die priester, en toe aan Maria. Sagaría het die boodskap ontvang dat hy en sy vrou, Elisabet, op hul gevordede ouderdom, ’n baba gaan hê. Sagaría het dit nie geglo nie en was gevolglik stom tot die geboorte van Johannes die doper. Die Bybel sê Sagaría en Elisabet het “onberispelik gewandel”. Dit was dus nie hul sonde wat hul kinderloos gemaak het nie, maar alles deel van God se plan vir hul lewens. Selfs Sagaría se ongeloof het nie in die pad gestaan van God se plan nie. Maria het aanvanklik geskrik toe Gabriël haar groet, maar het vol geloof die boodskap ontvang dat sy swanger sal word. Die waarskynlikheid dat Elisabet swanger sou word is baie groter as wat Maria, wat steeds ’n maagd was. Vandag sal die wêreld en die mediese wetenskap sê Elisabet is te oud en Maria was by ’n man betrokke. Tog het Maria geglo. Wat Sagaría nie verstaan het nie, was dat Johannes net voor die Messias gebore moes word. Soms gebeur dinge anders as wat ons wou hê doodeenvoudig omdat dit deel van God se plan was. Ek is seker Sagaría en Elisabet het lankal moed opgegee en gedink hulle sal kinderloos sterf. Waarvoor het jy reeds moed opgegee? Onthou God se tyd is nie ons tyd nie. God kan ’n stokou tannie swanger maak en God se Gees kon ’n maagd swanger maak. In Elisabet en Sagaría se geval het God se plan gebeur al was Sagaría ongelowig.
“Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.”
LUKAS 1:37 AFR53
Jy (mans en vroue) het dalk klaar geboorte geskenk aan al jou fisiese babas, of is net nie op ’n plek in jou lewe vir fisiese babas nie, maar wat van al die geestelike babas? God het elke mens geroep om dinge vir Hom te doen (geestelike babas). Het jy jou volle skeppingsdoel uitgeleef? Dis nou tyd om vol geloof te wees en “geboorte te skenk” aan alles wat God jou geroep het om te doen. God het die mens gemaak na Sy beeld en daarom is jy kreatief. Jy is geskep, om vol geloof, ’n impak op hierdie wêreld te hê.
Gaan Jesus jou vol geloof vind of gaan Hy jou kleingelowig noem?