Wat sê die Bybel oor die praat van vreemde tale?
- 4 minutes read - 818 wordsHandelinge 1-2
Jesus het gesterf en is opgewek uit die dode op die derde dag. Hy het toe vir 40 dae aan mense verskyn voordat Hy opgevaar het na die Hemel. Baie mense vier die Donderdag as Hemelvaartdag, die begin van Pinkster, 40 dae na opstandings-Sondag. Na 7 weke is die Heilige Gees uitgestort en dis wanneer die bybelse Pinkster/Pentecost/Fees van weke/Shavuot gevier word (Exodus 34). “Pentecost” beteken 50 en word op die vyftigste dag na Pasga gevier.
Daar het dus 10 dae verloop vandat Jesus opgevaar het totdat die Heilige Gees uitgestort is. Die Heilige Gees is uitgestort oor 120 mense wat ”eendragtig saam was”. Maria en Jesus se half broers en dissipels was almal daar. Was hulle vir al 10 dae bymekaar en besig om te bid? Die Bybel sê nie. Gedurende die tyd het hulle ‘n nuwe dissipel in Judas Iskariot se plek gekies. Jesus het aan 500 mense verskyn, maar slegs 120 het op Hom gewag. Waarom het die ander nie ook gewag nie (1 Kor 15)? Soms moet ons ook wag, in gebed om meer van God se Gees te ervaar in ons lewens. Wag jy op God?
“En daar kom skielik uit die hemel ’n geluid soos van ’n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek. En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek; en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galiléërs nie? En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is?”
HANDELINGE 2:2-4, 6-8 AFR53
Ander mense kon dus verstaan, wat hulle sê.
Lees Handelinge 10:44-48
Petrus het met die mense gepraat en hulle het die Heilige Gees ontvang. Dit was nie net vir die Jode nie, almal kon dit ontvang en in tale praat.
Hulle het eers die Heilige Gees ontvang en is daarna in water gedoop.
Handelinge 19:5-7
Paul het in Éfese met die mense gepraat. Hulle het reeds die waterdoop ontvang, maar nog nie die Heilige Gees nie. Hy het hande op hulle gelê en gebid en hul kon in tale praat en selfs profeteer daarna.
Sommige mense gaan eers deur die waterdoop en daarna ontvang hul die Heilige Gees en ander ontvang eers die Heilige Gees en doen daarna die waterdoop. Die volgorde is nie belangrik nie.
Die Heilige Gees maak dit moontlik om te verstaan wat die tale beteken.
“aan ’n ander werkinge van kragte, aan ’n ander profesie, aan ’n ander onderskeiding van die geeste, aan ’n ander allerhande tale, aan ’n ander uitleg van tale.”
I KORINTHIËRS 12:10 AFR53
Tale is een van die genadegawes van God. Almal van ons het verskillende gawes ontvang.
“Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik. En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale.”
I KORINTHIËRS 12:27-28 AFR53
1 Kor 13 praat van “tale van mense en engele” wat ek verstaan as tale wat vertaal kan word na ‘n ander aardse taal (mense) en tale wat nie vertaal kan word na ‘n ander aardse taal nie (engele). 1 Korinthiërs 14 gaan verder en sê dat tale wat vertaal kan word ‘n groep opbou, maar onvertaalde tale is persoonlike prys en verhouding bou tussen my en God. In ‘n groep moet ons dinge doen wat almal opbou, soos profeteer, tensy jy die tale kan uitlê/vertaal/intrepeteer.
Jy kan dus saggies in tale praat in ‘n groep, maar as jy kliphard in tale praat moet die uitleg daarvan volg of almal word nie daardeur bevoordeel nie. In jou stiltetyd en persoonlike verhouding met God kan jy soveel in tale praat as wat jy wil of kan. Paulus het gesê hy het baie in tale gepraat (1 Kor 14:18). In Kevin Basconi se boek “The reality of angelic ministry today” daag hy mense uit om vir 24 uur lank met God in tale te praat. Dr. Kevin Zadai en sy vrou praat vir ure saam in tale en ervaar baie bo-natuurlike dinge in hul lewens. Wanneer ek saam met mense in tale praat wat meer ervare as ek daarin is, help dit my.
“Want hy wat in ’n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede.”
I KORINTHIËRS 14:2 AFR53
“Want as ek in ’n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar.”
I KORINTHIËRS 14:14 AFR53