WAT KAN JY DOEN?
- 2 minutes read - 260 wordsEk hou baie van die see. Dis die een plek waar ek regtig kan stilsit en ontspan. Wanneer ek die branders hoor, die pragtige natuurskoon sien en die seelug ruik, voel ek naby aan God. Die seewater hier by ons is baie koud, selfs in die somer. Ek sukkel om hier te swem. Laat een koue wintersmiddag het ons gesien hoe ‘n paar mense (sonder “wetsuits”) die see instap en gaan swem asof dit heerlik warm is. Ek moes net eenvoudig vra hoe hulle dit regkry. Die antwoord was dat hulle dit net doen. Verlede week toe die dae nou lekker warm begin word het ons besluit dis tyd om te swem. Met die instap was my voete dadelik gevoelloos van die koue. Die seetemperatuur was slegs 14,4 grade Celsius. Ons het ooreengekom om nie te sê dat ons koudkry nie. Ons houding was dis somer en die water is warm. Ek het nou al 3 dae gaan swem en die nuwe houding maak die water heerlik warm voel. Dis die derde somer wat ons hier woon en ek is sommer vies vir myself dat ek 2 somers laat verbygaan het sonder om te swem.
Wat mis ons nog deur na die feite te staar? Daar is ‘n geestelike wêreld om ons wat nie funksioneer met wêreldse feite nie. Die wêreld plaas beperkings op jou, maar met God kan jy enige iets doen (Filipense 4:13). Dawid het gesê dat hy met sy “God ‘n bende kan stormloop en oor mure kan spring” (Psalms 18:30). Wat kan jy doen?