WAT SÊ DIE BYBEL OOR DIE ROL VAN DIE VROU?
- 4 minutes read - 710 words“Ook het die Here God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom 'n hulp maak wat by hom pas. Toe het die Here God 'n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak. En die Here God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot 'n vrou en bring haar na die mens. Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.”
GÉNESIS 2:18, 21-24 AFR53
Man en vrou is een vlees. Jesus is een met God en die bruid is een met die drie-enige God. Die aardse huwelik is ‘n skaduwee van die bruid van Christus.
“En Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is in die wêreld; en Ek kom na U toe. Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons. Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo — dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is. Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het.”
JOHANNES 17:11, 20-23 AFR53
Efésiërs 5 bevestig ook dat die man en vrou een vlees word, maar sê ook die vrou moet onderdanig wees aan die man soos Christene onderdanig aan God is. Volgens die TPT Bybel (The Passion Translation) is die woord onderdanig glad nie in die Bybel nie. Dit moet lees die vrou moet toegewyd wees aan die man soos Christene toegewyd is aan God. Die Bybel sê ons is nie diensknegte nie, maar kinders en vriende van God - Johannes 15:15, Galásiërs 4:7. Uit liefde en respek volg ons Heilige Gees se instruksie. Ons word nie gedwing soos ‘n slaaf wat onderdanig is aan sy meester nie.
“VROUE, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees. Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene. Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees word.”
EFÉSIËRS 5:22-24, 30-31 AFR53
“Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.”
GALÁSIËRS 3:28 AFR53
Elke vrou en elke man het ‘n rol om te vervul. Man, vrou en God moet soos ‘n wenspan saamwerk. Die Bybel vertel van vroue wat wonderlike dinge vir God gedoen het. Mirjam, die suster van Aaron en Moses, was ‘n profetes en het gesing en dans tot eer van God. Ester en Mórdegai het ‘n hele nasie gered. Debóra was ‘n profetes en het saam met Barak oorlog gevoer. Jael het die vyand se weermag leier met ‘n tentpen doodgemaak. Hulda was ‘n profetes in Jerusalem. Jesaja se vrou was ‘n profetes. God het Maria gekies as moeder vir Jesus. Josef en Maria het saamgewerk om Jesus veilig te hou. Maria Magdalena, Johanna en Susanna het saam met Jesus gereis en het Hom met hulle besittings gedien. Filippus se 4 ongetroude dogters was almal profeties.
Elke man en vrou is belangrik. Jy het ‘n roeping en God wil jou gebruik ongeag jou huwelikstatus.