WIE BEÏNVLOED JOU?
- 5 minutes read - 933 wordsPaulus: “Hy wat my beoordeel, is die Here.”
⁃ 1 Korinthiërs 4:4b
“Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie 'n dienskneg van Christus wees nie.”
GALÁSIËRS 1:10 AFR53
Koning Saul wou mense gelukkig gehou en het in die proses homself vervreem van God en Samuel. Gevolglik kon Saul nie langer koning wees nie. God het Saul uitverkies en hy is ingesalf as koning. Koning Saul het alles verloor omdat hy mense gelukkig wou hou. Dit is ‘n waarskuwing vir elkeen van ons. Jy kan uitverkies wees deur God en die salwing van die Heilige Gees ontvang, maar jy kan alles verloor as jy mense gelukkig wil hou. Wanneer jy kies om na mense te luister en nie God nie raak jy betrokke by heksery en kan jy nie ‘n dienskeg van God wees nie.
“Want wederstrewigheid is 'n sonde van waarsêery (witchcraft -KJV), en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp. Toe sê Saul vir Samuel: Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die Here en u woorde oortree het, want ek was bevrees vir die manskappe en het na hulle geluister.”
I SAMUEL 15:23-24 AFR53
Ons leef in ‘n wêreld waar mense betaal word om “influencers” te wees. Advertensies wil jou oortuig dat jy sekere produkte benodig om ‘n volmaakte lewe te hê. Hierdie mense se doelwit is om jou te beïnvloed om meer geld te spandeer. Vandag is grys hare en kaalkoppe skielik mode. Môre is dit weer iets anders. Hulle wil gesonde mense oortuig dat hulle medikasie nodig het. Ons word bombardeer met dinge van die vlees en iemand maak geld in die proses. Die waarheid word verdraai om by die agenda van die dag te pas. Niks is konstant nie en niemand is gelukkiger nadat hulle ‘n sekere produkte gekoop het nie.
“maar soos ons deur God waardig geag is dat die evangelie aan ons toevertrou sou word, so spreek ons, nie om mense te behaag nie, maar God wat ons harte beproef. Want ons het, soos julle weet, ons nooit met vleitaal opgehou of met bedekte hebsug nie. God is getuie. Ook het ons nie eer van mense, òf van julle òf van ander gesoek nie, al kon ons as apostels van Christus met gesag optree.”
I THESSALONICENSE 2:4-6 AFR53
Volgens die Bybel kan vleeslike mense nie die dinge van die gees beoordeel nie. Waarom steur jy jou dan aan die dinge wat vleeslike mense sê? Paulus het die wysheid van hierdie wêreld as dwaasheid beskou. God is ons enigste anker in ‘n wêreld wat elke dag druk op ons plaas.
“want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde. Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing; en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag, sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God. Tog spreek ons wysheid onder die volwassenes, maar 'n wysheid nie van hierdie wêreld, of van hierdie wêreld se heersers, wat vergaan nie. Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid,”
I KORINTHIËRS 2:2-7 AFR53
“Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Want wie van die mense weet wat in 'n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.”
I KORINTHIËRS 2:10-16 AFR53
“SO moet ons dan beskou word as dienaars van Christus en bedienaars van die verborgenhede van God. En verder word van die bedienaars vereis dat hulle getrou bevind moet word. Maar vir my beteken dit baie min of ek deur julle of deur 'n menslike regbank beoordeel word; ja, ek beoordeel myself nie eens nie, want ek is my van geen ding bewus nie. Daardeur is ek egter nie geregverdig nie; maar Hy wat my beoordeel, is die Here. Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang.”
I KORINTHIËRS 4:1-5 AFR53
Mense wil jou elke dag beïnvloed.
Selfs ander Christene weet nie altyd wat die beste vir jou is nie.
Laat jou slegs deur die Heilige Gees lei.
Maak seker jy doen Jesus se wil.