WIE IS EK?
- 2 minutes read - 266 wordsExodus 3
“Maar Moses het tot God gespreek: Wie is ek, dat ek na Farao sou gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte sou lei?”
EXODUS 3:11 AFR53
Miskien vra jy vandag dieselfde vraag as Moses: “Wie is ek? “
Jou opinie is dalk dat daar mense meer geskik vir jou roeping is. Moses moes leer wie God is om te verstaan wie hyself was. God het Homself aan Moses openbaar en Moses kon toe sy identiteit in God vind. Wanneer jy leer dat God ‘n liefdevolle Vader is wat wonderlike planne vir jou het (Jeremia 29:11) kan jy begin verstaan dat jy ‘n koningskind is. Ek moes vir ‘n hele ruk lank Bybelverse oor God se liefde aan myself herhaal voordat ek ‘n openbaring van God se liefde kon kry. God het ‘n boek geskryf vol planne vir jou lewe (Psalms 139:16).
Moses het ‘n man doodgeslaan (Exodus 2:12) en selfs dit het hom nie gediskwalifiseer om sy roeping uit te leef nie. Jou sonde is nie te groot vir Almagtige Vader om te vergewe nie. Jy kan jou slegte verlede agterlaat en ‘n nuwe begin maak. Die Israeliete het God se dade gesien, maar Moses het God geken en daarom geweet wat om van Hom te verwag (Hebreërs 3:10, Psalms 103:7). Wanneer jy God leer ken kan jy oorgaan tot aksie, want jy weet God is altyd daar om jou te help.
“En die wat goddeloos handel teen die verbond, sal hy met vleiery afvallig maak, maar die volk wat hulle God ken, sal vashou en optree.”
DANIËL 11:32 AFR53