WIE KAN DIE PRYS BEPAAL?
- 3 minutes read - 457 wordsGedurende die nat en koue winter werk ek in die tuin met my goedkoop “fake” Ugg’s. By die huis leef ek in hulle en hulle bly nooit skoon nie. Ek gaan nie in die tuin werk met my mooi, nuwe wit Julz ”sneakers” nie. Ek verstaan die waarde van my skoene. Ons het almal goed wat waardevol is en waarna ons beter omsien, maar ons het ook almal goedkoop besittings waaraan ons nie veel waarde heg nie. Dinge wat ons verniet, goedkoop of maklik kry word nie altyd goed behandel nie. Daar is nie noodwendig iets verkeerd daarmee nie.
Wanneer jy gered word ontvang jy die waardevolste geskenk absoluut gratis. Waardeer jy dit werklik? Verstaan ons werklik wat Jesus gedoen het? Verlossing is deur genade en gratis, maar Jesus het baie duur daarvoor betaal. Jesus het Sy perfekte hemelse woning verlaat om verneder, verwerp en mishandel te word op aarde. Ons Koning het nie in ‘n paleis gewoon nie. Hy is soos ‘n lam in ‘n stal gebore. Onskuldige Jesus het soos ‘n moordenaar aan die kruis gesterf en het hel toe gegaan om vir 3 dae die straf van die wêreld te dra. Jesus het betaal vir my sonde, want Hy was sonder sonde. Niemand anders kan vir my sonde betaal nie. Dit is hoe ware liefde lyk. As jy waardeer wat Jesus vir jou gedoen het sal jy God verheerlik met jou liggaam en gees. Elkeen van ons is geroep om ‘n verskil te maak. Begrawe jy jou talente of gebruik jy dit? Jy kan jou lig laat skyn daar waar jy is.
“Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.”
II KORINTHIËRS 8:9 AFR53
“En Jesus sê vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie.”
MATTHÉÜS 8:20 AFR53
“Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.”
FILIPPENSE 2:6-8 AFR53
“Of weet julle nie dat julle liggaam 'n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”
I KORINTHIËRS 6:19-20 AFR53