Wonderwerke deur die eeue
Janine Forsyth
- 3 minutes read - 508 wordsMaria van Agreda (1602-1665) was ‘n Rooms Katolieke non wat Jesus heelhartig gevolg het. Sy sou dae lank bid en terwyl sy bid in Spanje het sy in Amerika (Nuwe Wêreld) verskyn en daar Jesus met die inboorlinge gedeel. Sy het Spaans gepraat en hulle kon haar verstaan. Sy het meer as 500 keer aan die inboorlinge verskyn en hulle het aan ander vertel dat ‘n vrou in blou aan hulle verskyn het. Nadat sy gesterf het, het haar liggaam nie ontbind nie. Na meer as 300 jaar is haar liggaam nog net soos die dag wat sy gesterf het.
Charbel Makhlouf het sy dae in God se teenwoordigheid deurgebring. In 1889 toe hy sterf het daar vir 45 dae lank ‘n lig uit sy graf gestraal. Sy liggaam het ook nie ontbind nie.
Ons vind hierdie tipe wonderwerke ook in die Bybel.
Elísa se dooie liggaam kon ‘n dooie man lewendig maak. God se Gees was steeds daar al was Elísa reeds dood.
“En terwyl hulle besig was om 'n man te begrawe, sien hulle meteens die bende; daarom het hulle die man in die graf van Elísa gegooi; en toe die man met die gebeente van Elísa in aanraking kom, het hy lewendig geword en opgestaan op sy voete.”
II KONINGS 13:21 AFR53
Moses se gesig het gestraal nadat hy in God se teenwoordigheid was.
“Toe Moses klaar met hulle gespreek het, het hy 'n sluier oor sy gesig getrek. Maar as Moses voor die aangesig van die Here kom om met Hom te spreek, neem hy die sluier weg, totdat hy uitgaan. As hy dan uitgaan en aan die kinders van Israel meedeel wat hom beveel is, sien die kinders van Israel die gesig van Moses, dat die vel van Moses se gesig blink; daarop trek Moses dan weer die sluier oor sy gesig, totdat hy ingaan om met Hom te spreek.”
EXODUS 34:33-35 AFR53
God se Gees het Filippus weggevoer van die Jordaanrivier na Asdod.
“En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis. Maar Filippus is in Asdod gevind. En hy het die land deurgegaan en die evangelie verkondig in al die stede, totdat hy in Cesaréa gekom het.”
HANDELINGE 8:39-40 AFR53
Na Jesus se opstanding kon Hy in vertrekke verskyn.
“EN toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle! En agt dae daarna was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. En Jesus het gekom terwyl die deure gesluit was, en het in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle!”
JOHANNES 20:19, 26 AFR53
Hierdie wonderwerke gebeur vandag steeds met mense wat hulle afsonder in Jesus se teenwoordigheid.
Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.
JAKOBUS 4:8a AFR53