WYN IN DIE BYBEL
Janine Forsyth
- 3 minutes read - 469 wordsJesus se eerste wonderwerk was om water in wyn te verander - Johannes 2:1-12 . Jesus het demonstreer dat die Lewende water opgevolg sou word deur die nuwe wyn van die Heilige Gees.
“Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. 'n Klein tydjie, en julle sal My nie sien nie; en weer 'n klein tydjie, en julle sal My sien, omdat Ek na die Vader gaan.”
JOHANNES 16:7, 13, 16 AFR53
“En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”
JOHANNES 14:16-17 AFR53
Nadat Heilige Gees uitgestort is het dit gelyk of die mense dronk was - Handelinge 2. Hulle was “dronk van die Heilige Gees”.
“Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.”
EFÉSIËRS 5:18 AFR53
Wanneer ons Jesus aanvaar kry ons ‘n nuwe wynsak wat gevul moet word met die nuwe wyn van die Gees. Wedergeboorte gaan gepaard met verandering. Jou vlees of ‘n demoniese gees, beheer nie langer jou lewe nie; Heilige Gees is in beheer van jou lewe.
Paulus het vir Timótheüs aanbeveel om nie net water te drink nie, maar ook ‘n bietjie wyn vir sy ongesteldhede. Ons weet alkohol was soms gebruik as medikasie. Tog wonder ek of Paulus dalk vir Timótheüs herinner om deur die Gees te lewe? Ons is gered deur die Lewende water en Jesus is die enigste deur wat toegang gee tot die Vader. Ons het egter ook Heilige Gees nodig om vrede, krag en ‘n intieme verhouding met die Vader te hê.
“Moenie langer water alleen drink nie, maar gebruik 'n bietjie wyn ter wille van jou maag en jou herhaalde ongesteldhede.”
I TIMÓTHEÜS 5:23 AFR53
“En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie; maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.”
HANDELINGE 1:7-8 AFR53